|

AfriForum verwelkom gereelde bekendmaking van misdaadstatistieke

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Jeff Radebe, minister in die presidensie, se aankondiging vandeesweek verwelkom dat die land se misdaadstatistieke voortaan kwartaalliks bekendgemaak sal word.

Radebe het gesê dié besluit sal alle belanghebbendes met die nodige inligting bemagtig om misdaad in die land te help bekamp.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, meen dit is ʼn stap in die regte rigting.

Volgens Cameron sal ’n beter prentjie van misdaad in die land gemeenskappe help om hulself beter te kan beveilig. Hy het dit gereelde bekendmaking verwelkom en gesê lt.genl. Khomotso Phahlane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, verstaan hoe die misdaadsituasie die land negatief beïnvloed. Hy het gesê Phahlane kom uit die polisie en het hom bewys as iemand met groot begrip vir die werk wat die polisie moet verrig en die noodsaaklikheid om die veiligheidsituasie in die land in die algemeen, maar ook in landelike gebiede, te verbeter.

Gereelde bekendmaking van statistieke sal die polisie help om misdaadtendense te identifiseer en te sien waar tekortkominge en probleemgebiede is.

Die SAPD en die landbou-organisasie AgriSA het ook vandeesweek vergader om die inwerkingstelling van die landelike veiligheidstrategie te bespreek. Phahlane het by die vergadering gesê dat die polisie misdaad in landelike gebiede in samewerking met die landbousektor gaan pak.

Dr. Johan Burger, senior navorser van die Instituut vir Sekerheidstudies, het ook die vergadering bygewoon. Hy het gesê voorstelle is prakties van aard en dit is belowend.

Phahlane het vroeër ’n geskiedkundige ooreenkoms met AfriForum gesluit om plaasmoorde te prioritiseer en veiligheid in landelike gebiede te verbeter.

Dit het Suid-Afrikaners vir die eerste keer in jare ’n sprankie hoop gegee dat die regering ernstig is oor die voorkoming van plaasmoorde en –aanvalle.

Die burgerregte-organisasie veg sedert 2010 teen die voortslepende aanvalle en moorde op boere en gemeenskappe in landelike gebiede. Talle plaaslike en selfs internasionale veldtogte is deur AfriForum van stapel gestuur om plaasmoorde en -aanvalle tot prioriteitsmisdaad te verklaar.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê indien die SAPD se planne korrek geïmplementeer kan word, is die organisasie positief dat daar ’n afname in plaasmoorde en -aanvalle kan wees.

Francois Stoffberg, ʼn ekonoom by die Efficient Group, het aan Forum Nuus gesê dat meer gereelde statistiek potensiële beleggers kan help om meer ingeligte besluite te maak. “Ons vertrou dat Radebe se aankondiging beleggers se vertroue in Suid-Afrika sal herstel indien daar ʼn daadwerklike afname in misdaadsyfers is. Indien dit toeneem, is die teenoorgestelde egter ook moontlik.”

Soortgelyke plasings