|

Betreding maak deur oop vir plaasmisdaad

Plaasmoorde in Suid-Afrika het in die laaste drie maande van 2023 meer as verdubbel in vergelyking met Julie tot September. Daar was 22 plaasmoorde vanaf Oktober tot Desember in die land teenoor tien vir die drie maande daarvoor. Dis die brutaliteit van die aanvalle wat veral skok en dit is duidelik die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is nie opgewasse om die probleem te pak nie.

“Plaasaanvalle en -moorde word gewoonlik deur meer as twee aanvallers uitgevoer en word gekenmerk deur ernstige geweld. Slagoffers word dikwels meer as een keer geskiet of met allerlei wapens insluitend pangas en hamers aangerand. Die SAPD se ondersoekkoers vir moord is laer as wat dit was en moordenaars word dikwels nie vervolg nie,” het Johan Nortje, navorser by AfriForum, tydens ’n sitkamergesprek by dié burgerregteorganisasie gesê.

Johan Nortje, navorser by AfriForum

Suid-Afrika het tans die tweede hoogste moordkoers ter wêreld, met 7 710 mense wat in die derde kwartaal van 2023/2024 in die land vermoor is. Daar was amper net soveel gevalle van poging tot moord en dus kon die moordkoers veel hoër gewees het. Dis veral mense wat op die platteland of op plase woon wat die ergste geraak word.

Volgens dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van die familieboerdery organisasie Saai, is betreding gewoonlik waar probleme begin. “Betreding van ’n plaas lyk na iets klein, maar dit lei na veel erger probleme insluitend diefstal, roofweiding en uiteindelik plaasaanvalle. Saai gaan vanjaar boere help wat gevalle aanmeld en indien nodig sake hof toe vat.”

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van die familieboerdery organisasie Saai

Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum, het tydens die sitkamergesprek vertel van die probleme wat hy op sy plaas in KwaZulu-Natal ondervind. Iemand anders het die draad van sy plaas geknip en hul beeste onwettig op sy plaas gejaag. Uys moes ’n langdradige proses begin om die beeste van sy plaas te kry en dit terwyl hy die risiko loop dat sy eie beeste siektes opdoen of dat daar nie genoeg weiding vir hulle is nie.

Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum

De Jager meen die dae dat boere op die SAPD vir hul veiligheid kan vertrou is verby. “Die kundigheid en bevoegdheid ontbreek by die SAPD om kriminaliteit op die platteland te beheer. Boere wat hul hoop op die polisie stel om hulle veilig te hou is naïef. Boere moet by hul plaaslike plaaswag aansluit en van privaat sekuriteit gebruik maak om hul plase te beveilig,” sê hy.

Kyk die gesprek hier.

Soortgelyke plasings