|

Inwoners woedend oor voortslepende waterprobleme

Die chaos wat sedert gister in Parys losgebars het weens die voortslepende waterprobleme waaronder inwoners van dié dorp al vir etlike jare gebuk gaan, kon verhoed geword het indien die howe en die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit AfriForum die geleentheid gegun het om in te gryp.

Woedende inwoners van Tumahole en Schonkenville het gister die JoJo-tenks wat veronderstel was om skoon water aan hulle te verskaf, aan die brand gesteek omdat hulle glo nie skoon water ontvang nie en het vanoggend na die munisipaliteit en waterwerke opgeruk. Die paaie na naburige dorpe is ook versper en die skole wat skaars ’n week gelede geopen het, moes vandag sluit. Sommige van dié inwoners het byna ’n jaar gelede laas water in hulle krane gehad terwyl van die inwoners in die dorp vir amper ’n week nie water het nie.

Parys was in Julie verlede jaar ook in chaos gedompel toe inwoners vir dae sonder krag was nadat ’n Eskom-transformator uitgebrand het wat ook tot watertekorte gelei het.

AfriForum het reeds in September 2021 ’n ooreenkoms met die munisipaliteit gesluit om die water- en rioolwerke weer op standaard te kry, maar die munisipaliteit het nie die ooreenkoms nagekom nie. Die munisipaliteit skuld Eskom ook etlike miljoene rande. Twee dringende hofsake oor die water- en kragprobleme in die dorp is in 2022 nie as dringend beskou nie. ’n Hofsaak oor die watertekort en die swak gehalte van die water is ook in 2019 van die dringende rol geskrap. So ook is die hofaansoek om die watersituasie in die dorp tot ’n ramp te verklaar nie toegestaan nie.

Watertoetse wat die plaaslike tak verlede jaar by verskeie plekke in die dorp gedoen het, het getoon dat die drinkwater glad nie geskik is vir menslike gebruik nie en dat dit E. Coli bevat. Dié water het volgens die toetse feitlik geen chloor bevat nie en die munisipaliteit het inwoners ook nie gewaarsku oor die gehalte van die drinkwater nie.

“AfriForum het lankal gesien die watersituasie in Parys is ’n tikkende tydbom. As die hulp wat AfriForum aangebied het, aanvaar is, kon hierdie situasie vandag verhoed gewees het. AfriForum is egter steeds bereid om hulp te voorsien, dit moet net aanvaar word,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Soortgelyke plasings