Diesel- en steenkoolkontrakte: AfriForum pak Eskom in hof oor geweierde inligting

AfriForum was vandag in die Hooggeregshof in Pretoria om Eskom te dwing om inligting oor die kragreus se bestaande steenkool- en dieselkontrakte bekend te maak. Eskom het vantevore geweier om hierdie inligting bekend te maak, maar die burgerregteorganisasie poog nou om inligting oor dié kontrakte te bekom om sodoende korrupsie en wanbestuur by Eskom oop te vlek.

AfriForum voer in die saak aan dat Eskom, as een van die land se grootste en belangrikste staatsinstellings, ’n regsplig het om deursigtig en aanspreeklik te werk te gaan. Daarom meen AfriForum behoort Eskom alle kontrakte oor die aankoop en vervoer van steenkool en diesel openbaar te maak. AfriForum versoek voorts ook volledige besonderhede oor Eskom-kontrakte met buurlande rakende die verkope van elektrisiteit aan die betrokke lande.

Deursigtigheid is onontbeerlik om die publiek se vertroue te handhaaf en om korrupte praktyke en wanadministrasie te voorkom. AfriForum is toegewyd aan die beskerming van die Suid-Afrikaanse publiek se belange en aan die handhawing van Suid-Afrika se demokratiese beginsels van deursigtigheid en aanspreeklikheid. AfriForum glo dat hierdie saak ’n belangrike stap is in die vestiging van ’n meer deursigtige en verantwoordbare openbare sektor in Suid-Afrika.

Volgens Johan Kruger, bestuurder van energie by AfriForum, is Eskom hierdie dokumente aan die publiek verskuldig om te verseker dat wanbestuur en vrugtelose uitgawes in Eskom hok geslaan word. “Dit gaan ’n mens se verstand te bowe dat Eskom steeds hierdie soort inligting weier in ’n samelewing wat veronderstel is om oop en deursigtig te funksioneer. Die belastingbetaler en eindverbruiker is daarop geregtig om, juis te midde van hierdie kragkrisis, te weet wat Eskom op watter diensverskaffers spandeer. AfriForum speel ’n noodsaaklike waghondrol om te verseker dat belastinggeld nie sonder aanspreeklikheid in ’n donker put afgegooi word nie,” benadruk Kruger.

Volgens Kruger, skarrel Eskom nou verwoed om AfriForum as ’n mededinger uit te beeld en dat hulle daarom nie hierdie inligting aan die organisasie hoef te verskaf nie. Dit volg nadat die organisasie vroeër vanjaar AfriForum Energie bekendgestel het – ’n inisiatief wat poog om hernubare energieoplossings aan individue, kleinsakeondernemings en gemeenskappe te bring. “AfriForum Energie fokus nie op dieselfde terrein as Eskom nie. Dit is ons doelwit om te sorg dat ons lede en die breër gemeenskap energie-onafhanklikheid bereik,” sluit Kruger af.

Uitspraak in dié saak is voorbehou.

(Grafika: Wikimedia Commons, Gerhard Roux, Arnot-kragstasie, 2007)

Soortgelyke plasings