Kabeldiewe loop hul rieme styf teen AfriForum


AfriForum se Vanderbijlpark-buurtwag in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en verskeie sekuriteitsmaatskappye het in die vroeë oggendure van 1 Oktober 2017 drie vermeende kabeldiewe vasgetrek.
Dít volg nadat die buurtwag inligting ontvang het dat ’n bende diewe beplan om toe te slaan, waarna ’n groot groep buurtwaglede en sekuriteitspersoneel saam met die SAPD se honde-eenheid na die omgewing ontplooi is.
Een van die kabeldiewe het in ’n ontsnappingspoging lukraak skote afgevuur, maar niemand is beseer nie.

“Dit is al meer as ’n jaar lank wat die gebied tussen die R57/R42-kruising en die Bophelong-kruising onder kabeldiewe deurloop. Die vermoede bestaan dat ’n sindikaat hierby betrokke is. Ons het egter deeglike beplanning gedoen en die omgewing is afgesper. Die vuurwapen wat tydens die naweek se voorval deur die verdagte gebruik is, is ongelukkig nog nie gevind nie, maar ’n groot klomp gereedskap wat tydens diefstalle gebruik word, is by die verdagtes afgeneem,” sê Cor Schönborn, voorsitter van AfriForum se Vanderbijlpark-buurtwag.
“Ons bedank elke buurtwaglid, die SAPD se honde-eenheid, asook die sekuriteitsmaatskappye A-Sec, Rescom en EMS,” sluit Schönborn af.

Sluit vandag nog by AfriForum se buurtwag in Vanderbijlpark aan: SMS “Buurtwag” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings