|

Klerksdorp se water nié met salmonella besmet

Die AfriForum-tak in Klerksdorp het op 24 Februarie watermonsters in die stad geneem om die water vir salmonella te laat toets ná gerugte van ingewandskoors wat die ronde doen.

Monsters is by die Oleander Park-aftreeoord, Hoёrskool Schoonspruit en Laerskool Goudkop geneem, wat sleutelpunte in verskillende dele van die stad is.

Die watermonsters is by ’n laboratorium getoets en die uitslae het op 28 Februarie aangedui dat die drinkwater nie met salmonella besmet is nie.

Die AfriForum-tak is dankbaar vir hierdie goeie nuus, maar doen ’n beroep op inwoners om steeds bedag te wees op die gehalte van drinkwater.

Volgens Frans Roos, voorsitter van die AfriForum-tak in Klerksdorp, is die water van al die opgaardamme nie getoets nie en vertrou die gemeenskap dat die owerhede volgehoue kwaliteitbeheer sal toepas.

“Die voortdurende storting van riool in die waterbronne waaruit gewasse besproei word, is rede tot groot kommer. Die plaaslike AfriForum-tak wag sedert April 2021 dat die munisipaliteit die onwettige storting van rou riool staak, want hierdie storting besoedel al die waterbronne in die rivier af. Dit is goed dat die drinkwater nie besmet is nie, maar hierdie geleentheid moet gebruik word om die munisipale amptenare tot verantwoording te roep oor die onwettige rioolstorting,” sê Roos.

“Ek waardeer dat die tak die inwoners se welstand op die hart dra en watermonsters geneem het. Drinkwater is iets wat voortdurend gemonitor moet word en dis goed dat die tak die inwoners in hierdie verband ondersteun,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Pretorius sê verder die Klerksdorp-tak is besig met die proses om die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit tot verantwoording te roep oor die rioolstortings.

Sluit vandag nog by AfriForum aan en word deel van die oplossing: SMS “Klerksdorp” na 45344 (R1) of skakel vir Roos by 083 378 8826.

Soortgelyke plasings