|

Klerksdorp-tak herstel waterlek en slaggat in Loganstraat

Die AfriForum-tak in Klerksdorp het verlede week ’n waterlek in Loganstraat, Songloed, wat al vir ongeveer drie maande daar was, laat herstel. Die waterlek het groot skade aan die oppervlak van die pad aangerig en twee groot slaggate veroorsaak. Die tak en AfriForum se Songloed-buurtwag het ’n privaat kontrakteur genader en die gat is oopgegrawe. Die lekplek is ongeveer ’n meter onder die oppervlak gekry. Die tak het ’n spesiale klamp gekoop wat om die pyp gesit is om die lekkasie te stop. Die gat is opgevul en vir ongeveer ’n week gelaat om droog te word. Die groot slaggat is vandeesweek deur lede van die Songloed-buurtwag herstel.

Volgens Frans Roos, die voorsitter van die AfriForum-tak in Klerksdorp, is dit lekker om te sien dat mense eienaarskap neem van hulle woonbuurte. “Ons is baie dankbaar vir die mense wat inspring en help, maar daar is nog baie meer mense wat kan betrokke raak want saam is ons sterker.”

“Die AfriForum-tak in Klerksdorp tree toenemend vinnig op waar daar ’n behoefte ontstaan. Hierdie optrede maak ’n groot verskil in die woonbuurte. Die gemeenskap is dank verskuldig aan die takbestuur, Songloed-buurtwag, die privaat kontrakteur, wat groot werk gedoen het, en Action Force, wat die verkeer beheer het terwyl die werkery aan die gang was,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Word deel van die oplossing: SMS “Klerksdorp” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings