|

AfriForum se Vanderbijlpark-tak #VegEnBou

Die AfriForum-tak in Vanderbijlpark het van 26 September tot 1 Oktober 2021 tydens die tak se #VegEnBou-week verskeie projekte aangepak wat deel vorm van die strategiese doelwitte van AfriForum se veg-en-bou-plan wat vroeër vanjaar bekendgemaak is.

AfriForum se Vanderbijlpark-buurtwag het die week op 26 September afgeskop deur diens by die Vanderbijlpark-begraafplaas te hou. Dié buurtwag is elke derde Sondag van die maand van 11:00-14:00 by die begraafplaas sodat inwoners hul geliefdes se grafte kan besoek. Daar was gereeld voorvalle by dié begraafplaas waar mense beroof en aangeval is. Die buurtwag wil met hierdie diens sorg dat die gemeenskap veilig en met ’n geruste hart die begraafplaas besoek.

Die tak het op 27 September twee velde (die een op die hoek van Rossini-boulevard en die een in De Forreststraat) skoongemaak en maak gereeld velde skoon wanneer die gemeenskap die tak nader. Slaggate is op verskeie plekke in Vanderbijlpark herstel en vyf ton teer is op 28 September gebruik om strate veiliger te maak vir motoriste. AfriForum se teenboeliespan het Laerskool Eligwa besoek om ’n teenboeliepraatjie by die skool aan te bied.

Altesaam 100 bome is op 29 September by Lochvaal-deurgangshuis en by Nanescol-begraafplaas geplant. Dié projek vorm deel van AfriForum se jaarlikse boomplantmaandprojek. Die Vanderbijlpark-tak het ook lekkergoedpakkies en vrugte saam met I-water vir Laerskool Vaalrivier se leerders wat op die skool se voedingsprogram is, uitgedeel.

Op 30 September het die Vanderbijlpark-tak die seniors van Pioneer Huis in Vanderbijlpark bederf met ’n braai. IFM het vir musiek gesorg en die seniors het hul dansskoene uitgehaal en heerlik stof opgeskop.

Die #VegEnBou-week is afgesluit met ’n sigbaarheidspatrollie in samewerking met die SAPD en GPF in Vanderbijlpark om sigbaarheid in die gemeenskap te verseker en kriminele aktiwiteite in die dorp te beperk.

“Dankie aan elke vrywilliger vir julle onbaatsugtige diens aan die gemeenskap. Dankie ook aan I-Water, IFM en VCR vir julle bydrae – sonder julle en ander organisasies en ondernemings sou die Vanderbijlpark-tak nie soveel bereik het nie. As ons nie as ’n gemeenskap begin saamstaan nie, gaan die dorp verval,” sê Jan Labuschagne, voorsitter van AfriForum se Vanderbijlpark-tak. 

“Dit is belangrik dat gemeenskappe saam agteruitgang beveg en saam begin bou aan ons toekoms. Ons moet selfstandige gemeenskappe skep wat ’n selfdoenkultuur het om ’n volhoubare toekoms vir almal te skep,” sê Stephanus (Butch) Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand.

Skakel 072 908 1345 of stuur ’n e-pos na vanderbijlpark@afriforumtak.co.za vir meer inligting of om by AfriForum se Vanderbijlpark-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings