|

Heilbron-tak maan Ngwathe-munisipaliteit oor besoedelde Elandspruit

AfriForum se Heilbron-tak het op 2 November ’n dringende brief aan die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit gerig oor die besoedeling van Elandspruit. Dít volg nadat die boere wie se plase aan die spruit grens, die Heilbron-tak genader het om hulle te help. Die besoedeling van riool en vullis is so erg dat die diere nie die spruitwater wil drink nie en vir sommige boere is dit die enigste water wat daar is. Diere is al van die water dood, terwyl ander, wat noodgedwonge deur die spruit moet loop, se pote gevrot het.

Die tak het die brief nie net aan dié munisipaliteit gerig nie, maar ook aan die Departement van Water en Sanitasie, landbou-organisasies, die Departement van Omgewingsake en die Fuzile Dabi-distriksmunisipaliteit. Die tak eis dat daar onverwyld aandag aan die situasie gegee word, aangesien die spruit se water in die Renosterrivier inloop, wat in die Koppiesdam inloop, waar Koppies se inwoners hulle water vanaf kry.

Die tak eis dat daar onmiddellik iets aan die rioolwerke wat in ’n baie swak toestand is, gedoen moet word, ten spyte daarvan dat dit nie veel langer as ’n jaar gelede opgegradeer is nie. ’n Verdere probleem is dat daar groot hoeveelhede rou riool is wat nooit by die rioolwerke uitkom nie en dus direk in die Elandspruit inloop. Die onwettige vullisterrein wat in ’n haglike toestand is, dra verder tot die besoedeling by. Die tak vra verder die lisensies van die rioolwerke en die vullisterrein aan.

“Behalwe vir die feit dat Heilbron se gemeenskap en ons land nie kan bekostig om een boer te verloor nie, het hierdie besoedeling verreikende gevolge vir die waterbronne ook. Ek hoop van harte dat almal wat die brief ontvang sal hand opsteek en help en druk toepas dat hierdie probleem vinnig opgelos kan word,” sê Gerrie Muller, die voorsitter van die Heilbron-tak.

Volgens Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir die Mooirivier, is hierdie situasie ontoelaatbaar. Nie net verloor die boere van hulle vee nie, maar die waarde van hulle grond sal ook val omdat die water, wat eens ’n groot bate was, nie kan gebruik word nie. “Ons glo dat almal aan wie ons die brief gerig het, tot hierdie stryd sal toetree en dat die regte stappe geneem sal word om hierdie gruwelike besoedeling te stop,” sluit Pretorius af.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Heilbron” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings