|

AfriForum eis antwoorde oor toekoms van belastingkorting op mediesefondsbydraes

Die Nasionale Tesourie moet dringend antwoorde gee oor bewerings dat die belastingkorting op mediesefondsbydraes geskrap gaan word. Só sê die burgerregteorganisasie AfriForum in ’n regsbrief wat vandag aan die Nasionale Tesourie gestuur is. Dit volg nadat die Departement van Gesondheid Dinsdag (31 Oktober) dié bewering gemaak het tydens ’n voorlegging aan die Nasionale Raad van Provinsies se staande komitee oor gesondheid en maatskaplike dienste. Prof. Nicholas Crisp, adjunk-direkteur-generaal van gesondheid, het die plan intussen Woensdag (1 November) in ’n media-onderhoud herhaal en voer aan dat dié fondse eerder gebruik moet word om “die openbare sektor in staat te stel om sekere van die dinge wat tans gebreek is, reg te maak”. Daar is voorts ook sprake dat die belastingkorting voortaan gebruik sal word om te help om die beoogde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te finansier.

AfriForum hou vol dat die beëindiging van dié belastingkorting rampspoedige gevolge vir individue sowel as privaat mediese skemas kan hê. Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, is die Departement van Gesondheid en Crisp se uitlatings oor die afskaffing van belastingkorting op mediesefondsbydraes misleidend, aangesien daar nog geensins ’n finale besluit hieroor geneem is nie. “Indien hierdie belastingkorting verwyder word, sal dit beteken dat ’n gesin van vier ’n belastingkorting van R1 220 per maand sal verloor as hulle lede van ’n mediese fonds wil bly. Dít terwyl NGV nog jare kan neem om geïmplementeer te word, indien dit ooit geïmplementeer sal word,” sê Boshoff.

Die afskaffing van hierdie belastingsvoordeel kan ’n wesenlike struikelblok vir baie Suid-Afrikaners inhou wat reeds onder die druk van talle ekonomiese uitdagings gebuk gaan. Dit kan boonop ook ’n impak hê op die toeganklikheid en bekostigbaarheid van gehalte gesondheidsorgdienste.

Daarbenewens is AfriForum ook bekommerd dat hierdie besluit, indien dit deurgevoer word, privaat mediese fondse in ’n kwesbare posisie kan plaas. Die huidige belastingkrediete het gedien as ’n aansporing vir individue om tot privaat mediese fondse te behoort, wat op sy beurt gehelp het om die druk op die openbare gesondheidstelsel te verlig. Indien hierdie finansiële dryfveer wegval, kan daar ’n afname in die getal mense wees wat mediese fondse kan bekostig, wat potensieel die lewensvatbaarheid van hierdie fondse in gedrang kan bring. Dit kan op sy beurt lei tot ’n vermindering in mededinging en die beskikbaarheid van ’n verskeidenheid gesondheidsorgdienste, wat ’n negatiewe invloed op die hele Suid-Afrikaanse gesondheidsorgstelsel kan hê.

AfriForum eis in sy regsbrief aan die Nasionale Tesourie antwoorde op onder meer die volgende:

  • Is daar enige wetgewing of regsveranderinge in oorweging wat die herroeping van belastingkrediete vir mediesefondsbydraes kan fasiliteer?
  • Watter maatreëls, indien enige, oorweeg die Nasionale Tesourie om die nadelige gevolge wat uit die afskaffing van die belastingvoordeel op mediesefondsbydraes kan voortspruit te beperk, veral vir die mees kwesbare en lae-inkomstegroepe?
  • Is ’n sosio-ekonomiese impakstudie onderneem oor die aangeleentheid?
  • Watter gesprekke is met belanghebbende partye, insluitend burgerregteorganisasies en die privaat mediese bedryf, gevoer om insette en bekommernisse rakende die potensiële afskaffing van belastingkrediete te bekom en te ondersoek?

Volgens Boshoff sal antwoorde op hierdie vrae duidelikheid verskaf oor die werklike verwagtinge wat Suid-Afrikaners hieroor moet hê.

Besoek gerus www.jougesondheid.co.za vir volledige inligting oor die gevare van NGV en hoe dit gekeer kan word.

Soortgelyke plasings