|

Knysna-tak voltooi tweede fase van opknapping langs N2

Die tweede fase van die opknapping van die veiligheidsreëling langs die N2 buite Knysna is pas voltooi. Dié projek, wat in November verlede jaar afgeskop is, word in sy geheel deur vrywilligers van AfriForum se Knysna-tak en die organisasie Revive Knysna aangepak. Die reëlings is plek-plek afgebreek en word nou moeisaam herstel en oorgeverf.

’n Totaal van 335 meter van die reëling is teen ’n koste van nagenoeg R9 000 in hierdie fase herstel. Dit bring die totale lengte van herstelwerk aan hierdie reëling nou op 570 meter – dus meer as ’n halwe kilometer – te staan. Benewens die herstelwerk aan die reëling, knap vrywilligers ook die sypaadjie op, ruim vullis op en maak die stormwatervore skoon.

Volgens Schalk van der Merwe, voorsitter van AfriForum se Knysna-tak, gaan dié tak vir niemand wag om hierdie gemeenskap reg te ruk nie. “By AfriForum glo ons aan selfdoen, eerder as niksdoen. Ons bedank ook graag die lede van Revive Knysna, sonder wie ons nie van hierdie projek ’n sukses sou kon maak nie.” Sluit vandag nog aan by die Knysna-tak en maak op hierdie manier ’n verskil in jou gemeenskap. Kontak Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, vir meer inligting. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings