|

Bronkhorstspruit-tak verryk Versterpark met vier nuwe bome tydens Boomplantmaand

Die AfriForum-tak in Bronkhorstspruit het ’n appelkoos- en drie amandelbome in Versterpark geplant as deel van dié organisasie se jaarlikse Boomplantmaand.

Volgens Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid, is AfriForum op verskeie maniere betrokke om omgewingsvolhoubaarheid te bevorder en die land se natuurlike erfenis te bewaar. Die Boomplantmaand-projek vind elke jaar in aansluiting by Nasionale Boomplantweek plaas met die doel om die publiek oor die belangrikheid van bome in te lig en aan te moedig om inheemse bome te plant.

“Deur bome te plant, is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en mooi te maak nie, maar wys ons ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n natuurlike hulpbron waarsonder niemand sal kan oorleef nie – dit is ook deel van ons erfenis,” sê Ungerer.

Die nasionale algemene boom van die jaar vir 2023 is die witolien (Buddleja saligna, SA boomnommer 636), terwyldie nasionale skaars boom van die jaar die vanwykshout (Bolusanthus speciosus, SA boomnommer 222) is. AfriForum moedig gemeenskappe aan om inheemse bome te plant wat goed in hul omgewing aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Bronkhorstspruit en die Aleteïa Studiesentrum onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” meen Magda Lewies, voorsitter van AfriForum se Bronkhorstspruit-tak.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by dié projek betrokke te raak en deel te word van ’n beter en groener toekoms.

Soortgelyke plasings