|

Kortpaaie in opleiding en keuring wek kommer oor Lesufi se misdaadbestryders

Die gebrek aan deursigtigheid, integriteit en behoorlike prosesse in die werwing en opleiding van die Gautengse Premier, Panyaza Lesufi, se sogenaamde “misdaadbestryders” wek kommer oor hierdie eenheid wat met die beskerming van die provinsie getaak is. Die burgerregteorganisasie AfriForum bevraagteken die werklike intensies van hierdie inisiatief veral aangesien talle bewerings van korrupsie en swak prosesse tans opslae maak.

AfriForum is in besonder besorg oor talle berigte en bewerings van diepgaande korrupsie en wanvoorstellings in die werwingsproses van hierdie misdaadbestryders. Talle individue het nou na vore getree en ernstige ongerymdhede en onreëlmatighede in die aansoekproses uitgewys. Daar is ook individue wat na bewering hul plekke in dié program gekoop het wat die inisiatief in sy geheel in gevaar stel . Dit stel ook die inwoners van Gauteng bloot aan swak opgeleide en moontlik ongekwalifiseerde individue wat as wetstoepassers optree. Dit is ook onregverdig teenoor die kandidate wat nou ’n valse sin van sekuriteit en selfversekering het wanneer hulle hul werk doen.

Dit word al hoe duideliker dat Lesufi politieke doeltreffendheid bo openbare veiligheid prioritiseer. Die vinnige en twyfelagtige uitbreiding van hierdie misdaadbestryders, ten spyte van hul oënskynlike gebrek aan behoorlike opleiding en wettige keurings, wek ernstige kommer oor die ware bedoelings agter hierdie inisiatief. Eerder as om die oorsake van misdaad op voetsoolvlak te bekyk, blyk Lesufi se strategie ’n desperate poging te wees om politieke guns te verkry.

Berigte van magsmisbruik deur hierdie misdaadbestryders het ook opgeduik. Hierdie misdaadbestryders het ten spyte van voortdurende ongerymdhede volle polisiebevoegdhede gekry. Die wrede aanranding van ’n jong man in Katlehong deur hierdie misdaadbestryders in Augustus 2023 is ’n skerp herinnering aan die potensiële gevare wat ontoerekeningsvatbare en onvoldoende opgeleide wetstoepassers inhou. Hierdie voorvalle weerspieël ’n breër patroon van ongekontroleerde mag en onvoldoende oorsig, wat net verder gaan bydra tot die publiek se wantroue in wetstoepassers – dít is die laaste ding wat wetstoepassers in Suid-Afrika nou kan bekostig. 

“Ek is seker daar is toegewyde individue onder hierdie misdaadbestryders wat vir die regte redes hul hand opgesteek het. Ongelukkig was die hele werwings- en opleidingsproses twyfelagtig, wat die hele eenheid se beeld besoedel het. Die verantwoordelike ding om te doen sou wees om die ontplooiing van hierdie misdaadbestryders onmiddellik te staak en ’n omvattende, onafhanklike ondersoek na die werwing- en opleidingsproses te doen. Ongelukkig is deursigtigheid en aanspreeklikheid nie woorde wat maklik met Lesufi geassosieer word nie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

“Verder doen ons ’n beroep op die publiek om waaksaam te bly en te eis dat politici regte, langtermynoplossings vir misdaad bo korttermyn-politieke winste prioritiseer. Gauteng verdien ’n misdaadvoorkomingstrategie wat gewortel is in integriteit, deursigtigheid en respek vir die oppergesag van die reg, nie een wat gebou is op politieke aansien en gevaarlike kortpaaie nie,” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings