|

Kraaifontein-tak wil nuwe hoogtes met nuutverkose bestuur bereik

Die AfriForum-tak in Kraaifontein se bestuur het verlede week ’n herstrukturering ondergaan. Onder leiding van Johan Crous, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Weskus, is ’n nuwe bestuurspan verkies om dié tak na nuwe hoogtes te lei.

Die nuutverkose bestuur bestaan uit David Burger (voorsitter); Theuns Broekman (ondervoorsitter); Jackie Mouton (sekretaris); Christo la Grange (tesourier); Willem Hanekom (plaaslikeregeringsake); Grant Langeveldt (omgewingsake); en Frikkie Bronkhorst (gemeenskapsveiligheid).

“Hierdie toegewyde span is opgewonde om die Kraaifontein-gemeenskap te dien en het reeds planne om hierdie gebied te ontwikkel en te bevorder. Die nuwe bestuur sal met hul eerste bestuursvergadering dié planne verder bespreek en verfyn,” sê Crous.

David Burger, die nuutverkose voorsitter, sê hy is vasbeslote om Kraaifontein te verbeter deur noukeurig aandag aan die gemeenskap se behoeftes te gee. “Deur noue samewerking met die inwoners van hierdie gebied, kan ons ’n daadwerklike verskil in Kraaifontein maak,” sê Burger.

Diegene wat by die Kraaifontein-tak betrokke wil raak, kan Burger by voorsitter.kraaifontein@afriforumtak.co.za of 083 500 5420 kontak. 

Soortgelyke plasings