Water
|

Raskwotas vir watergebruik: Minister tree buite magte op

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag Senzo Mchunu, die minister van Water en Sanitasie, versoek om die beoogde veranderings aan waterwetgewing, wat soveel as 75% swart eienaarskap van ondernemings wat ’n watergebruikslisensie benodig sal vereis, onmiddellik terug te trek.

Die hersiene konsepregulasies oor watergebruikslisensies wat op 19 Mei 2023 vir openbare deelname in die Staatskoerant gepubliseer is, sal vereis dat aansoeke om sekere watergebruike te lisensieer, voortaan slegs deur die Departement van Water en Sanitasie (DWS) oorweeg sal word indien die onderneming wat daarvoor aansoek doen, vasgestelde raskwotas nakom.

AfriForum is van mening dat die verpligte voldoening aan raskwotas wat die konsepregulasies beoog nie net onregmatig is nie, maar dat die minister met die publikasie daarvan ook buite sy magte opgetree het.

“Die Hoogste Hof van Appèl het bepaal dat regstellende aksie een van ’n reeks faktore is wat tydens ’n watergebruikslisensieaansoek oorweeg moet word. Indien regstellende aksie voorkeur gegee word bo ander oorwegings wat ook volgens die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998) in ag geneem moet word, is dit strydig met die bepalings van die Waterwet. Dit is egter presies wat die hersiene konsepregulasies poog om te bereik. Dit lyk dus asof die minister nie net die wet wat aan hom sy magte verleen nie maar ook die Appèlhof se uitspraak, wil ignoreer,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.

De Vaal sê verder die minister het volgens die Waterwet nie eens die bevoegdheid om regulasies oor die eienaarskap van ’n onderneming wat aansoek doen om watergebruike te lisensieer, uit te vaardig nie. Deur die rol van die wetgewer aan te neem, ondermyn die minister die oppergesag van die reg en die skeiding van magte wat deur die Grondwet gewaarborg word.

Hoewel dr. Sean Phillips, die Direkteur-Generaal van die DWS, onlangs die storm wat rondom die konsepregulasies losgebars het probeer kalmeer het deur te beklemtoon dat die konsepregulasies slegs ten doel het om ’n gesprek te stimuleer en die publiek se bekommernisse aan te hoor, is AfriForum egter van mening dat die konsepregulasies só ooglopend onregmatig is dat dit nie eens verder deur die wetgewende proses gevoer moet word nie. Met geen redelike vooruitsig dat die parlement die konsepregulasies sal goedkeur nie, moet verdere tyd en uitgawes nie daarop verkwis word nie. Daarom eis AfriForum dat die hersiene konsepregulasies onmiddellik teruggetrek moet word. Sou die minister nie gehoor gee aan die versoek nie, sal AfriForum steeds aan die openbaredeelnameproses deelneem en sy volledige kommentare voor die sluitingsdatum indien.

Soortgelyke plasings