|

OUDITEUR-GENERAAL SE MUNISIPALE VERSLAG WYS GEMEENSKAPPE IS LAASTE BASTION TEEN VERVAL

Volgens die burgerregteorganisasie AfriForum skets die ouditeur-generaal (OG) Tsakani Maluleke se 2019/2020-verslag oor munisipaliteite ’n voorspelbaar somber prentjie en een wat slegs deur groter gemeenskapskrag reggestel kan word.

Luidens die OG se verslag is daar onder meer ernstige twyfel oor 27% van munisipaliteite se vermoë om as lopende sake voort te gaan, en sy sonder weereens swak toesighouding en verantwoordbaarheid uit as die oorsake hiervan. Nagenoeg ’n derde van munisipaliteite het ook die boekjaar met ’n negatiewe saldo afgesluit en COVID-19 is as dekmantel vir onreëlmatige besteding en korrupsie gebruik. Slegs 27 munisipaliteite het skoon oudits ontvang.

Sy beklemtoon daarom dat munisipaliteite twee vername uitdagings in die gesig staar, te wete swak finansies en bestuur.

Volgens Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum, is die jongste bevindinge al oorbekend. “Elke jaar waarsku die OG oor dieselfde aspekte wat hierdie verrotting veroorsaak en steeds word niks reggestel nie, ondanks die gebruik van konsultante om mense se werk te doen waarvoor hulle reeds betaal word. Ons weet teen hierdie tyd dat verantwoordbaarheid in die meeste munisipaliteite nie bestaan nie, ondanks periodieke beloftes dat dit reggeruk sal word.”

Mostert sê gemeenskappe moet bloot aanvaar dat die owerhede nie oor die middele en die wil beskik om dienslewering te verbeter en verval te keer nie. “Die enigste oplossing is dat gemeenskappe hulself organiseer en ’n plan maak – met of sonder munisipale besture se hulp. Mense wat selfs ’n pandemie gebruik om onreëlmatig op te tree, kan eenvoudig nie vertrou word nie.”

Dr. Eugene Brink, bestuurder van die Sentrum vir Plaaslike Regering by AfriForum, sê een van die neerdrukkendste afleidings uit hierdie bevindinge is dat die ANC, ondanks hierdie wanbestuur, vanjaar weer by die stembus beloon sal word. “Die regerende party gaan weer maklik seëvier in die meeste landelike munisipaliteite en waarskynlik in die meeste metro’s ook. Hierdie munisipale gegewens volg boonop op nog ’n verdoemende verslag deur die OG in Maart oor provinsiale departemente se treurige finansies. Kaderontplooiing se gevolge is nou in volle swang en gemeenskappe trek aan die kortste ent.

“Die mense wat omgee oor hul dorpe en woongebiede het geen ander keuse as om self ’n verskil te maak nie. Slegs twee onlangse voorbeelde waarby AfriForum ’n sleutelrol speel, is hoe die gemeenskap en sakesektor in Coligny ’n volhoubare projek begin het om die dorp skoon te hou, en die verskaffing van water in Standerton. Ons kan aanhou kla dat ons reeds belasting betaal en dus dat dienste aan ons verskuldig is, maar die werklikheid is dat dit nie besig is om te gebeur nie. Die gemeenskap sal eenvoudig ’n sterk rol moet speel om self probleme op te los, want die besture en rade van die meeste munisipaliteite is onbevoeg en korrup,” sê Brink.

Soortgelyke plasings