|

Matjhabeng-munisipaliteit reageer ná volgehoue druk deur AfriForum

AfriForum se Welkom-tak het op 27 Januarie 2020 ’n skrywe aan die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit gerig rakende die uitloop van rou riool in die Lakeview-woongebied. Dít volg nadat AfriForum klagtes van gemeenskapslede ontvang het dat riool in hul erwe invloei.

AfriForum het versoek dat die munisipaliteit die probleem voor 31 Januarie 2020 moet regstel, waarna die munisipaliteit wel die rioollekkasie in dié woonbuurt voor genoemde sperdatum herstel het.

“AfriForum sal voortgaan om druk op die munisipaliteit uit te oefen om te verseker dat probleme soos hierdie opgelos word. Riool in woongebiede is nie net ’n onaangename gesig nie, dit is ook ’n gesondheidsrisiko. Dit is uiters belangrik dat sulke probleme dadelik aangepak word om te verseker dat die gemeenskap ’n gesonde en veilige omgewing kan geniet,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

AfriForum se Welkom-tak het verder ’n dringende vergadering met die munisipaliteit versoek om te bepaal wat die munisipaliteit se aksieplan is om soortgelyke en ander bestaande probleme op te los. Die tak wil verder uitvind hoe die munisipaliteit in die toekoms beplan om te verhoed dat dieselfde probleme weer ontstaan.

AfriForum se Welkom-tak nooi die gemeenskap uit om by die organisasie se projekte en aksies betrokke te raak. Sluit by AfriForum aan en word deel van die oplossing: SMS “Welkom” na 31481 (R1).

Soortgelyke plasings