| |

Kry én hou misdadigers agter tralies, eis AfriForum in Groblersdal van Polisie en Justisie

AfriForum se Groblersdal-tak het die afgelope Vrydag (5 Julie) met rolspelers van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Departement van Justisie vergader om probleme rakende misdaad in Groblersdal en die hantering van sake deur die plaaslike landdroshof te bespreek. Tydens dié vergadering het AfriForum dit duidelik gestel dat inwoners keelvol is vir misdaad en dat dringende oplossings gevind moet word om misdadigers agter tralies te kry én daar te hou.

’n Dokument met meer as 100 hofsake wat in die Groblersdal-landdroshof voorgekom het en waaroor twyfel of kritiek oor die hantering daarvan bestaan, is ook tydens die vergadering aan verteenwoordigers oorhandig. AfriForum eis nou deeglike terugvoer oor die hantering van elk van dié sake.

Die vergadering spruit uit die Groblersdal-tak se volgehoue druk en die oorhandiging van ’n derde memorandum aan die toenmalige ministers van Justisie en Polisie, Ronald Lamola en Bheki Cele, by die Groblersdal-landdroshof in Januarie vanjaar. In die memorandum spreek dié tak, Groblersdal Landelike Veiligheid en die Dennilton Cattle Association hul misnoeë uit oor die manier waarop die landdroshof en polisie sake in die gebied hanteer.

Volgens Hendrik Kotze, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo, is inwoners van die Groblersdal-streek ontstoke oor onder meer die toestaan van borg aan vermeende plaasaanvallers en veediewe. “In een geval is borg toegestaan aan ’n verdagte wat ná ’n plaasaanval aangekeer is. Dieselfde verdagte is kort daarna in nóg ’n plaasaanval geskiet. In ’n meer onlangse geval – waar AfriForum se Groblersdal-buurtwag twee veediewe vasgetrek het – is beide verdagtes op borg vrygelaat ten spyte daarvan dat hulle as Zimbabwiese burgers geen vaste adresse in Suid-Afrika kon verskaf nie,” verduidelik Kotze. “Die ondoeltreffende hantering van misdaadsake laat boere en inwoners van Groblersdal mismoedig, want hoewel verdagtes telkens aangekeer word, loop dit in die vervolgingsfase uit op niks.”

Dié en verskeie ander probleme is derhalwe tydens Vrydag se vergadering bespreek. Die vergadering is die eerste in ’n reeks wat belê is tussen rolspelers, waaronder die SAPD, die Departement van Justisie en AfriForum, om by die kern van die probleem te kom.

Die vergadering is op Lamola se aandrang byeengeroep deur advokaat Mackenzie Tsimane van die Departement van Justisie. Brigadier Isaac Mhlongo, provinsiale hoof van die SAPD se Proaktiewe Polisiëring in Limpopo, het ook die vergadering bygewoon. Hy het die tekort aan polisielede en die nodige toerusting om sake behoorlik te ondersoek as redes vir uitdagings in die SAPD voorgehou.

Hierop het Llewellynn Hemmens, AfriForum se hoof van Veiligheid vir die Noordstreek, egter op die bereidwilligheid van AfriForum en die Groblersdal-gemeenskap in die bekamping van misdaad gewys. “Ons as burgers van die land wil juis die polisie se hande sterk maak. AfriForum se netwerk van gevestigde en doeltreffende buurt- en plaaswagte sowel as die organisasie se gebruik van moderne tegnologie en toerusting bied ’n reusevoorsprong vir die gebied wat die bekamping van misdaad betref. Ons wil graag sien dat misdadigers agter tralies kom én daar bly,” verduidelik Hemmens.

Hemmens voer voorts aan dat die SAPD en die Departement van Justisie nou, danksy Vrydag se vergadering, beslis kennis geneem het van die gemeenskap se ontevredenheid en AfriForum se aanbod om steun in misdaadvoorkoming en -bekamping. 

Jannie Jansen van Rensburg, voorsitter van AfriForum se Charlie-plaaswag, wat die landelike gebied rondom Groblersdal bedien, is ook optimisties oor die vordering wat deur die vergadering gemaak is. “Dit voel asof ons nou vir die eerste keer sedert 2017, toe ons vir die eerste keer die probleme by die Groblersdal-landdroshof opgemerk het, vordering maak en in die regte rigting beweeg,” sê Jansen van Rensburg.

Rolspelers sal weer op 26 Julie 2024 in Groblersdal vergader.

Soortgelyke plasings