|

Kundiges praat by AfriForum Sport-kongres om onderwysers en afrigters te bemagtig

AfriForum Sport het vandag hul eerste tweedaagse sportkongres aangebied wat deur sowat 110 onderwysers en afrigters van Gauteng-skole bygewoon word.

Verskeie sportkundiges het hul kennis gedeel en relevante kwessies in skolesport gefokus om afrigters te bemagtig om hulle spanne suksesvol af te rig.

“Daar is baie rasseverskille in Suid-Afrika, maar sport het die vermoë om al die verskillende rasse saam te snoer,” het Ronald Peters, bestuurder vir AfriForum Sport, tydens die opening gesê. AfriForum Sport is drie jaar gelede gestig om gemeenskappe bymekaar te bring en ’n ondersteuningsnetwerk te bou. “Ons weet daar is baie diskriminasie in sport en dat disfunksionele sportfederasies groot uitdagings veroorsaak. Juis daarom wil ons saamstaan en -werk om atlete en spelers te ondersteun.”

Prof. Ankebé Kruger, dosent in afrigtingswetenskap aan die Noordwes-Universiteit (NWU), sê slegs 6 uit 10 kinders tussen die ouderdom van 5 en 14 jaar neem aan sport buite skoolverband deel. “Sport hou verskeie voordele vir die jeug in en oefening lei tot ’n verlaging in obesiteit, gesonde groei, verbeterde balans en koördinasie, asook kardiovaskulêre funksie. Sport leer kinders ook om te verloor en hulle emosies te beheer. Dit verbeter hulle vermoë om te fokus wat ook oorspoel na die klaskamer. Daarbenewens word fisies aktiewe kinders aktiewe volwassenes.”

Sy sê hoewel sport verskeie voordele inhou, is druk ook onlosmaaklik deel van sport. “Druk is egter ’n individuele konsep en verskil van persoon tot persoon en in verskillende situasies. Ouers en afrigters se optrede verhoog dikwels stres by atlete wat ’n styging in angs en ’n verlaging in selfvertroue veroorsaak.” 

Volgens Kruger staak ongeveer 70% kinders sport wanneer hulle hoërskool toe gaan bloot omdat hulle dit nie meer geniet nie. Druk word met ’n negatiewe gevoel geassosieer en veroorsaak dat kinders in hul vermoëns twyfel en bekommerd is oor die uitslag van ’n wedstryd of oor wat mense gaan sê as hulle verloor. Ons moet die jeug help om druk te hanteer. Dit gaan dikwels oor hoe ’n mens die druk/uitdaging sien en daaroor dink. Atlete moet gehelp word om die verskillende emosies in situasies raak te sien. Hulle weet nie altyd wat beheerbare faktore is nie en moet geleer word wat hulle wel kan beheer soos die hoeveelheid inspanning wat hulle insit tydens oefeninge en wedstryde.”

Kruger beveel ook aan dat atlete ’n “geen-verskoning-houding” ontwikkel sodat foute of ander faktore nie gebruik word as ’n verskoning nie. Indien hulle ’n fout maak moet hulle reflekteer oor hoe dit reggemaak kan word sodat daar geleer kan word om te verbeter.

Retief Broodryk, ook ’n lektor in afrigtingswetenskap aan die NWU, het oor doelwitte en sukses gepraat.

“Sukses verskil van mens tot mens en as sukses afhang van wen, gaan baie spanne ongelukkig wees,” meen hy.

Hy wys daarop dat afrigters, atlete/spelers, ouers, spanbestuurders en onderwysers se persepsie van sukses verskil. Daarom moet doelwitte gestel word sodat persepsies van wat sukses is, belyn kan word. “Dit is nie altyd maklik om doelwitte te stel nie en dit is ook nie altyd meetbaar nie. Ek is ’n groot voorstander van klein doelwitte. Jaag eerder klein doelwitte na om op die ou end by ’n groot doelwit uit te kom sodat jy selftevrede kan wees.”

Hy klassifiseer doelwitte as proses-, prestasie- en uitkomsgedrewe. Byvoorbeeld: Maak seker daar is genoeg balle tydens ’n oefening of dat afrigters aangestel is (proses). Die speler wil graag 30 lopies tydens ’n krieketwedstryd aanteken (prestasie) en of ’n span wen of verloor is die uitkoms.

Niel du Plessis, verbonde aan die Sport Science Lab, het meer lig gewerp op die vaardigheidsontwikkelingsproses. “Om vaardighede te ontwikkel, is ’n lang proses en word nie aangeleer deur meer wedstryde te speel nie. Die resultaat moet belangrik wees. Besluit wat jy wil bereik en werk daarnatoe. Oefen basiese vaardighede en tegnieke en werk veranderlikes by soos spoed en moegheid. Doen dan kombinasies en oefen dit in spanverband. As jy nie op die tegniek fokus nie, gaan dit nie in ’n wedstryd oorspoel nie.”

Du Plessis meen sport moenie aan kondisionering gemeet word nie. “Dit help nie krieketspelers is fiks maar kan nie veldwerk doen nie. As jy weet wat die vaardighede is vir Springbokvlak moet dit reeds op o. 9-vlak aangeleer word. Vaardighede en tegnieke moet van jongs af aangeleer word sodat dit later optimaal benut kan word. Ongeveer 80% van atlete word gebreek deur kondisionering en daarom moet daar eerder op die aanleer van vaardighede en tegnieke gefokus word. Afrigters moet ’n spesifieke sport se tegnieke by spelers ontwikkel. As die tegnieke verkeerd is, gaan fiksheid nie die span help om te presteer nie.”

Kyra Duvenage, ’n senior sportwetenskaplike by die Centre of Health and Human Performance by die NWU, het op atleetmonitering gefokus. “Afrigters en spelers het nie altyd beheer oor die uitkomste van die kompetisie nie, maar wel oor die oefening wat ingesit word. Die grootste doel van atleetmonitering is om te voorspel hoe gereed die atleet vir die kompetisie is. Atlete se data moet op een plek gestoor word sodat afrigters toegang daartoe het sodat besluite oor die atleet en span gemaak kan word.

Uitkomste moet volgens haar gemeet word. Soos byvoorbeeld hoeveel opstote ’n speler kan doen en dit moet weer oor ’n sekere tydperk gemeet word om te sien of daar vordering was. Die doel is om fiksheid te verhoog, maar uitbranding te verlaag. “Afrigters moet hulself bemagtig om ’n sportsoort in geheel te verstaan, want die vereistes verskil van sport tot sport.”

* Die sportkongres sal later op AfriForumTV beskikbaar wees.

Soortgelyke plasings