|

Kuruman-tak maak park skoon en verskerp veiligheid

Die AfriForum-tak in Kuruman het besluit om self in te gryp om hierdie dorp weer netjies te maak. Die Ga-Segonyana Plaaslike Munisipaliteit het by dié idee ingekoop en het handearbeid verleen en toerusting verskaf om te help om ’n park op te ruim.

Die tak het op 15 Augustus 2022 met 40 mense, bossiekappers en grassnyers begin om die park, wat oorkant die Kuru Kuru-gastehuis op die hoek van Bucklestraat en Armstronglaan geleë is, skoon te maak en te beveilig. Daar is 10 vragte vullis van onder meer takke en gras na ’n vullisterrein weggery.

Dit was uiters belangrik dat die park skoongemaak en beveilig moes word aangesien daar al verskeie voorvalle was waar vroue, wat deur die park huis toe stap, beroof is.

 “Ons wil graag Sediba Waste Management bedank wat die stortbakke vir ons beskikbaar gestel het en almal wat by die projek betrokke was,” sê Gonda Louw, voorsitter van AfriForum se Kuruman-tak.

“Die tak doen uitstekende werk in die gemeenskap, en dit is wonderlik om die groot verskil te sien wat hulle in die gemeenskap maak,” sê Werner Strauss AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.

Louw moedig die publiek aan om by projekte soos hierdie betrokke te raak en skenkings te maak.

Jy kan help om ’n verskil in jou gemeenskap te maak. SMS “Kuruman” na 32532 (R1).

Soortgelyke plasings