|

KYK: Bring die hele gesin vir ’n heerlike vakansie na Kokoriba

Het jy en jou gesin nog nie planne vir julle volgende vakansie nie? Dan is Kokoriba Wildreservaat, net buite Brits in Noordwes, dalk net die plek vir julle.

AfriForum- en Solidariteit-lede ontvang boonop 20%-afslag op verblyf by Kokoriba.

Volgens Gielie van Niekerk, eienaar, is Kokoriba se fokus om vakansies vir die hele gesin heerlik te maak.

“Ons is ’n gesinsvakansieoord en ons spesialiseer daarin om ’n wegbreek vir die hele gesin lekker te maak. Ons het 45 selfsorgeenhede, 120 staanplekke vir woonwaens en 12 splinternuwe staanplekke met privaat ablusiegeriewe.”

Maar wat is dit wat Kokoriba so aanloklik vir die hele gesin maak? Jonk of oud kan in een van die drie swembaddens ontspan of baljaar. Een van die swembaddens is onderdak en verhit, terwyl die ander twee in die buitelug onderskeidelik koud en matig verhit is. As ’n mens iets meer aktief wil doen, kan jy minigholf, veerpyltjies of potspel speel of trampolien spring. ’n Mens kan ook gaan stap of in die veld fiets ry.

Daar is drie swembaddens by Kokoriba.

Kokoriba is ’n wildreservaat en die wild wat gesien kan word bly een van die grootste trekpleisters. “Ons natuurresservaat beslaan 200 hektaar en ons het al die gewone vlakte wild. Hier is ook bietjie skaars wild soos goue wildebeste en swartwitpense. Al ons gaste het toegang tot die reservaat,” verduidelik Van Niekerk.

Kameelperde tel onder die wild wat by Kokoriba gesien kan word.

Gaste kan gholfkarretjies of ’n groter wildsvoertuig huur om op eie stoom wild te besigtig. Daar is ook wildskampe neffens die blyplekke waar die diere gevoer word en van agter ’n elektriese heining besigtig kan word. Voëlkykers sal ook ’n besoek aan Kokoriba geniet met verskeie voëlspesies wat aangetref word.

Daar is waarskynlik nie ’n beter plek as hierdie om die sonsondergang te geniet nie.

Wat blyplek betref, is daar selfsorgeenhede vir twee mense en ander wat tot ses persone kan huisves. Alle eenhede het lugversorging en buite braaigeriewe.

Die Sable-eenhede is byvoorbeeld ’n goeie keuse vir twee persone wat ’n bietjie afstand van ander gaste verkies. Dit is luukse eenhede met ’n bad en stort. Elkeen van die ses Sable-eenhede het ’n lekker stoepie met ’n buitekombuis en ’n braai-area net ’n paar meter van die stoep af. Daar is waarskynlik nie ’n beter plek as hierdie om die sonsondergang te geniet nie.

Hoewel gaste die meeste van hul etes self kan voorberei, is daar ‘n À la carte-restaurant wat etes teen billike pryse aanbied. Dan is daar ook die Watergat-kroeg waar ’n mens bietjie kan uitspan of een van die lapas met groot skerms waar ’n rugbywedstryd of ander sportsoort gekyk kan word. Daar is ook ’n klein winkel wat ’n paar basiese items en kruideniersware verkoop sou jy dalk iets by die huis vergeet het.

Die ander stukkie goeie nuus is dat die R511 tussen Brits en Kokoriba, wat jare lank ’n kopseer was, uiteindelik klaar opgeknap is wat toegang tot die oord nou aansienlik vergemalik. Om die waarheid te sê kan Pretorianers, afhangend van waar hulle bly, Kokoriba in net meer as ’n uur bereik en vir diegene wat van Johannesburg kom, is die oord waarskynlik minder as twee ure se ry.

“Ons nooi graag al ons gereelde gaste en al ons voornemende gaste uit om Kokoriba vir ’n onvergeetlike wegbreek te kom besoek,” sê Van Niekerk.

Besoek www.kokoriba.co.za of skakel 012-277-1204 om meer oor die oord uit te vind of om ’n bespreking te maak. ’n Volledige pryslys is op aanvraag beskikbaar. Onthou om te sê jy is ’n AfriForum- of Solidariteit-lid om vir die 20%-afslag in aanmerking te kom.

Soortgelyke plasings