|

AfriForum se Centurion-tak maak kanaal en beddings skoon

Die AfriForum-tak in Centurion het aan die begin van Oktober die kanaalprojek in Valhalla afgehandel en die tak het die tuinspan ná afloop van hierdie projek uitgestuur om die tuinbeddings en middelmannetjies in Die Hoewes skoon te maak. Die middelmannetjies is vol vullis en plantegroei neem erg toe.

Dié tak het vroeër vanjaar die kanaalprojek in Valhalla aangepak nadat dié kanaal erg met plante toegegroei en vullis bestrooi was. Die plantegroei het die vloei van die kanaal erg belemmer en misdadigers het die kanaal ook as ’n aanval-en-vlug-roete gebruik om by huishoudings wat naby aan die kanaal geleë is in te breek. AfriForum se Centurion-tak het maande aan hierdie projek gewerk om te verseker dat die kanaal weer op peil is. Meer as 2 000 sakke vullis en 17 vragte (14 ton elk) vullis is verwyder terwyl meer as 600 liter brandstof gebruik is en ongeveer 2 880 man-ure ingesit is om die projek suksesvol te voltooi.

“Ons is dankbaar vir elke lid se bydrae wat hierdie werk moontlik maak. AfriForum se Centurion-tak sal aanhou om probleme in die area op te los en druk toe te pas waar nodig,” sê André de Bruyn, voorsitter van AfriForum se Centurion-tak.

“AfriForum sal voortgaan om projekte aan te pak om die gemeenskap en omgewing vir almal te verbeter. Al hierdie suksesvolle projekte is ’n voorbeeld van wat gemeenskappe kan bereik as almal saam werk. Ons wil graag almal bedank wat hierdie tipe projekte moontlik maak en die organisasie sal aanhou druk uitoefen om te verseker dat gemeenskapslede se klagtes hanteer word,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Die tak beplan reeds hulle volgende groot aksies en projekte en wil die gemeenskap uitnooi om hul Facebook-blad dop te hou en om by die groepe op die Telegram-toep aan te sluit. Raak vandag nog by AfriForum se Centurion-tak betrokke om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak: SMS “Centurion” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings