|

Kyk: Kill the Boer nou in Hongaars beskikbaar

Dr. Ernst Roets, bestuurshoof vir Strategie by AfriForum, se boek Kill the Boer, wat na Hongaars vertaal is, is vandeesweek in Hongarye bekendgestel. ’n Groot aanvraag vir dié boek, wat in 2018 in Engels in Suid-Afrika uitgegee is, het tot dié vertaling gelei.

“Dis eintlik ’n inisiatief van die Hongaars-Suid-Afrikaanse Vriendskap Vereniging. Dis een van die projekte wat aangepak is om die vriendskap tussen Hongare en Afrikaners te versterk. ’n Deel hiervan is om ons stories vir mekaar te vertel en ’n groter begrip in Hongarye te skep oor die situasie in Suid-Afrika. So ook kan hulle ons help om die boodskap van ons situasie verder te versprei,” sê Roets.

Dr. Ernst Roets tydens die bekendstelling van Kill the Boer in Hongarye.

Kill the Boer fokus op plaasmoorde in Suid-Afrika. Roets het die boek geskryf na aanleiding van sy interaksie en onderhoude met slagoffers van plaasmoorde en -aanvalle. Alhoewel die boek nou al vyf jaar oud is, sê Roets dis steeds net so relevant soos toe dit aanvanklik verskyn het.

“Die boek is wel reeds in 2018 vir die eerste keer gepubliseer, maar die onderwerp bly relevant en bewustheid oor die onderwerp neem toe. Daar is baie vrae oor plaasmoorde en -aanvalle en daar is steeds mense wat dit ontken en afmaak as iets wat nie belangrik is nie. Plaasaanvalle het die simbool van die krisis van die situasie in Suid-Afrika geword. Dis veral omdat mense vir hul grond en identiteit geteiken word.”

Kill the Boer is tans nog net in Engels en Hongaars beskikbaar, maar volgens Roets is daar tans gesprekke aan die gang om dit moontlik ook na Duits, Nederlands en selfs Frans te vertaal. Daar is nog nie sprake van ’n opvolg boek nie, maar ’n opdatering van Kill the Boer, wat die nuutste statistiek sal insluit, is ’n moontlikheid. Die voorwoord vir die Hongaarse weergawe is reeds aangepas om nuwe statistiek in ag te neem.

“Daar is steeds baie belangstelling in die boek en dit is al twee of drie keer gedruk. Dit het ook op Amazon baie goed gevaar.”

Roets is nie net in Hongarye om die boek bekend te stel nie, maar ook om ’n dokumentêre fliek met die hulp van AfriForumTV op te neem oor dié land en sy mense. Hy gaan ook met verskeie ander rolspelers insluitend verteenwoordigers van die Hongaarse regering en ander politici vergader en die Conservative Political Action Conference (CPAC) bywoon waar hy een van die sprekers sal wees.

“Die hoop is om met hierdie besoek verhoudings tussen ons en die Hongare te versterk.”

Soortgelyke plasings