|

AfriForum-streeksveiligheidsnetwerk óók nou in die Oos-Kaap

AfriForum se afdeling vir gemeenskapsveiligheid het die afgelope week nóg ’n veiligheidsteunkring, oftewel ’n streeksveiligheidsnetwerk, op die been gebring – dié keer in die Oos-Kaap. Die veiligheidsteunkring in die Oos-Kaap sal samewerking tussen AfriForum se buurt- en plaaswagte in Jeffreysbaai, Gqeberha (Port Elizabeth) en Uitenhage bewerkstellig. ’n Nouer samewerking tussen hierdie takke sal help toesien dat veiligheidskwessies oor ’n breër gebied getakel word.

AfriForum gaan deur die loop van die jaar nog talle soortgelyke steunkringe landwyd vestig, om sodoende die burgerregteorganisasie se buurtwagte meer effektief op streeks- en nasionale vlak te laat funksioneer. AfriForum het tans 172 buurt- en plaaswagstrukture landwyd.

Volgens Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap, hou die vestiging van AfriForum se steunkringe noemenswaardige voordele in vir die gemeenskappe wat daardeur bedien word. “Deur middel van ’n doeltreffende steunkring kan kriminele aktiwiteite in ’n groter gebied bekamp word. So ook kan inligting, soos dié wat met behulp van veiligheidskameras langs paaie ingesamel word, wyer gedeel word en verdagtes se bewegings tussen gebiede veel beter gemonitor word. Daarbenewens kan misdaadtendense ook meer akkuraat geïdentifiseer en ontleed word om sodoende kwesbaarheid te bepaal en beter risiko-ontledings te doen,” sê Van der Walt.

Die uitbreiding van plaaslike radionetwerke sal ook met die vestiging van steunkringe gedoen word om lede in staat te stel om oor langer afstande te kommunikeer. AfriForum sal herleiers in sekere gebiede oprig om kommunikasie tussen steunkringe en die AfriForum-beheerkamers en -takke landwyd te verbeter.

“Ons kan nie langer terugsit en toekyk hoe ons gemeenskappe gebuk gaan onder die vlaag van misdaad in hierdie land nie. Dit is nou tyd vir meer gemeenskapslede om betrokke te raak by buurtwagstrukture,” sluit Van der Walt af.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke. Besoek www.wordlid.co.za om aan te sluit.

Soortgelyke plasings