Wandel met Waardigheid-wenners aangekondig


Dit is die tweede jaar dat AfriForum die Wandel met Waardigheid-dissiplinekompetisie in skole hou ter bewusmaking en bevordering van die waarde van positiewe dissipline in skole. Dit is vir AfriForum ’n groot eer om Middelburg Hoërskool hierdie jaar met die toekenning as die skool met die beste dissiplinebeleid te beloon, asook vir Nina Mostert, die graad 11-leerder van Helpmekaar Kollege, wat die leerdertoekenning vir die beste dissipline ontvang het.
Die kompetisie is deel van ’n veldtog wat AfriForum begin het in reaksie op toenemende bekommernis oor swak skooldissipline wat aan die orde van die dag is.
Volgens Carien Bloem, veldtogkoördineerder vir onderwys by AfriForum, ly leerders se werksprestasie onder swak dissipline. Dit lei ook daartoe dat onderwysers die beroep al meer verlaat omdat swak dissipline dit vir hulle onmoontlik maak om gehalte-onderrig te gee. Duidelike riglyne en reëls is sinoniem met doeltreffende onderrig en leer.
Besoek gerus AfriForum se webblad by www.afriforum.co.za of stuur ’n e-pos aan Carien Bloem by carien@afriforum.co.za vir volledige inligting oor die kompetisie of om jou skool volgende jaar in te skryf.

Soortgelyke plasings