|

Kyk: Sasolburg-tak hou weer Saterdag markdag

Die Hoëveldse Tuine in Sasolburg was ’n paar jaar gelede nog in ’n haglike toestand, maar danksy die AfriForum-tak daar is dié tuine stelselmatig tot hul eertydse glorie herstel. Die gras word gereeld gesny, bome gesnoei en rommel verwyder om die tuine weer toeganklik vir die publiek te maak.

“Terwyl ons aan die doelwit om die tuine weer op peil te kry gewerk het, het die idee by ons posgevat om ’n plek te skep waar plaaslike inwoners maandeliks bymekaar kan kom om saam te kuier en hul tuisgemaakte produkte te verkoop om hul inkomste aan te vul,” sê Johan Cooks, AfriForum-takvoorsitter in Sasolburg.

Die tak het toe besluit om ’n mark aan te bied. Die eerste mark is in Oktober verlede jaar gehou en het nou ’n maandelikse instelling in die dorp geword. Dit word elke laaste Saterdag van die maand gehou en die aantal stalletjies het van tien by die eerste mark tot meer as 30 by verlede maand se mark gegroei. Junie se mark word hierdie Saterdag (24 Junie) aangebied.

Die meeste uitstallers verkoop tuisgemaakte produkte. As dit nie ’n lekker blatjang, kolwyntjie, koekie of biltong is nie, is dit skilderye, ornamente en of ander items om die huis mee te verfraai. In die somermaande is daar ’n springkasteel en glybane vir die jongspan en AfriForum Jeug bied ook speletjies aan. Plaaslike musikante het ook by die laaste drie markte opgetree.

“Die plan is om die mark elke maand uit te brei. Ons oorweeg ook om in die toekoms ’n musiekfees aan te bied, ’n nagmark te hou of selfs fliekaande aan te bied,” sê Cooks.

Toegang tot die mark is gratis en veilige parkering word voorsien. Markgangers kan selfs oorweeg om hul motors te laat was by die karwasdiens op die terrein terwyl hulle lekker inkopies doen. ’n Gedeelte van die geld wat by die mark ingesamel word gaan aan die Van Riebeeck Gemeenskapsentrum se opknappingsfonds.

Vir meer inligting of om ’n stalletjie teen R150 vir hierdie Saterdag se mark te bespreek, kontak vir Hanlie Powell op WhatsApp by 064 634 9741.

Soortgelyke plasings