|

Nuwe sperdatum vir graad 1- en 8-inskrywings in Gauteng ‒ AfriForum raai ouers aan om nie te wag nie

AfriForum het die nuwe sperdatum vir inskrywings van leerders wat volgende jaar in graad 1 of 8 in Gautengse openbare skole moet wees, verwelkom. Die aanvanklike sluitingsdatum vir aansoeke is met ’n week verleng tot 21 Julie 2023 en ouers sal daarna nog tyd tot 28 Julie 2023 hê om die vereiste dokumente aanlyn of by die skole van hulle keuse in te dien.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is dit goeie nuus vir ouers wat graag die dokumente persoonlik by skole wil indien, maar deur die gebrek aan tyd voor die winterskoolvakansie gepootjie word. Tog het sy ouers ernstig vermaan om eerder die inskrywings so gou as moontlik af te handel om te verseker dat hul kinders in die skool van hul keuse geplaas word.

“Weens die Gautengse onderwysdepartement se onvermoë om voldoende skole in die provinsie te bou om aan die aanvraag te voldoen, is dit ’n feit dat vele kinders weer vanjaar nie dadelik plek in skole sal kry nie. Om so gou as moontlik in te skryf en gesertifiseerde kopieë van die dokumente by jou voorkeurskool in te dien, is die beste aksieplan,” sê sy.

Bailey meen verder dat minister Angie Motshekga se kommentaar vroeër dié week dat Afrikaanse moedertaalonderrig goeie gevolge het, geen illusie by ouers moet skep dat die Departement van Basiese Onderwys enkelmedium Afrikaanse skole voortaan gaan beskerm nie.

“Herhaalde uitsprake van die minister en provinsiale LUR’e, asook terugvoer van skole deur die land, maak dit duidelik dat die departement Afrikaanse skole as handige sondebok misbruik om die gebrek aan voldoende funksionele skole voor die deur van iemand anders as hulleself te lê. Ouers moet sorg dat openbare enkelmedium Afrikaanse skole vol gehou word en dat sterk ouerbeheerliggame aanslae om skole na dubbel- of parallelmedium instellings te transformeer, afweer,” voeg sy by.

Aansoeke kan dus tot 21 Julie 2023 aanlyn op die Gautengse Departement van Basiese Onderwys se webwerf (www.gdeadmisions.gov.za) ingedien word.

Soortgelyke plasings