|

KYK: VEEARTS WAS ‘ONGEMAKLIK’ OM BY MODISE-SAAK BETROKKE TE RAAK

Deur Marthinus Koekemoer

Terwyl adv. Dali Mpofu, regsverteenwoordiger van Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering in die parlement, vandag op die tweede dag van haar verhoor aangevoer het dat die saak teen haar polities gemotiveerd is, het ’n veearts getuig dat hy aanvanklik van enige betrokkenheid by die saak wou onttrek nadat hy bewus geraak het dat die plaas aan Modise (’n persoon met politieke bande) behoort.

Modise verskyn in die Potchefstroomse Streekhof op ses aanklagte van dieremishandeling en –verwaarlosing. Sy pleit onskuldig en voer aan sy was nie bewus van die toestande op haar plaas, Modderfontein, buite Potchefstroom nie en dat sy ’n plaasbestuurder aangestel het om na varke, skape en bokke om te sien.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se Privaatvervolgingseenheid, vervolg Modise namens die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NRDBV). Die NRDBV het ingevolge die Wet op Verenigings vir die Voorkoming van Dieremishandeling, 1993 (wetno. 169 van 1993) die statutêre magte om oortreders privaat te vervolg.

Die aanklagte teen Modise spruit voort uit ’n ondersoek wat in 2014 op haar plaas gedoen is.

Dr. Sameer Abbas, ’n veearts van Potchefstroom, is op 6 Julie 2014 deur ’n plaaslike DBV-tak versoek om na Modise se plaas te gaan om te kyk in watter toestand die diere is.

Abbas het getuig dat hy in 1998 as vlugteling uit Irak na Suid-Afrika gekom het en eers vir die staat gewerk het voordat hy in 2010 sy eie praktyk begin het. Hy is in sy eie tuisland gemartel en toe hy uitvind dat die plaas aan ’n persoon met politieke bande behoort, was hy ongemaklik weens sy verlede in Irak.

Abbas se getuienis is onderbreek toe Mpofu geargumenteer dat hulle nie bewus was dat die Privaatvervolgingseenheid hom as ’n deskundige getuie gaan roep nie en dus het hulle nie hul eie deskundige in die hof gehad om Modise se regspan by te staan nie. Dít, ondanks die feit dat Nel gister in die hof aangedui het dat hy ’n veearts gaan roep en ook Abbas se deskundige weergawes aan die beskuldigde se regspan geopenbaar het.

Mpofu kon ook nie sy aanvanklike stelling staaf dat die Privaatvervolgingseenheid, in terme van die Strafproseswet, die teenparty in die saak 14 dae kennis moes gegee het dat hulle ’n deskundige getuie wil roep nie.  Hy het AfriForum daarvan beskuldig dat hulle met politieke speletjies besig is.

Abbas kon gevolglik nie voortgaan met sy getuienis nie en sal in April teruggeroep word na die getuiebank.

Dustin Wetdewich, redakteur van die Potchefstroom Herald, het getuig oor die stank van die diere wat in die lug gehang het. “Die karkasse het ’n aaklige reuk afgegee. Daar was ook ’n put buite die afgekampte gebied waar dooie diere in verbrand is.”

Wetdewich het ook foto’s geneem van die haglike omstandighede op Modise se plaas.

Pieter Van Aswegen, nog ’n getuie en ’n werknemer van Meadow Feeds, het in November 2013 Modise se plaas besoek toe voer bestel is. “Die situasie op die plaas was hartbrekend en hartseer. Ek was geskok oor die toestand van die varke. Van hulle was reeds dood en ander heeltemal uitgehonger.”

Volgens sy beraming sou die voer wat afgelewer is net vir twee weke genoeg wees. Hy het die plaaswerker aangeraai om die voerbakke vol te hou sodat die varke vinnig kon aansterk. Daar was egter nie ’n verdere bestelling vir voer by Meadow Feeds geplaas nie.

Gister het ao. Andrew Serame van die SAPD getuig en foto’s is gewys van die grusame tonele wat hy op die plaas afgeneem het waar verskeie diere reeds dood was of so naby aan dood was dat hulle van kant gemaak moes word.

Grace de Lange, senior inspekteur by die NDBV se plaasdiere-eenheid, het ook gister getuig oor die “afgryslike toneel” op die plaas. Volgens haar was dit van die ergste tonele nog wat sy in haar loopbaan tot dusver as inspekteur gesien het.

Andrew Leask,  hoofondersoeker by AfriForum se Privaatvervolgingseenheid, het ná afloop van vandag se verrigtinge gesê die eenheid is gelukkig met die stand van sake. “Die haglike omstandighede op die plaas is goed uiteengesit. Ons is egter ongelukkig omdat die verdediging nie voorbereid was vir die getuienis van ons deskundige nie en dat die saak weer uitgestel moet word.”

Die saak is tot 13, 14 en 15 April 2021 uitgestel.

Soortgelyke plasings