|

AFRIFORUM SE BRITS-BUURTWAG TREK INBREKERS VAS

Die AfriForum-buurtwag in Brits het in die vroeë oggendure van 2 Desember 2020 gehelp om verdagtes vas te trek nadat die buurtwag inligting ontvang het van ’n huisbraak by ’n woning in die Mamogale-omgewing. Die buurtwag het tydens ’n patrollie by die toneel verbygery waar ’n verdagte pas gearresteer is en ’n AfriForum-buurtwaglid het verneem dat daar na nog verdagtes gesoek word. Die lid het in die rigting waar die verdagtes laas opgemerk was beweeg en hulle dopgehou terwyl bystand vanaf die SAPD versoek is. Tesame met nog ’n buurtwaglid het hulle nog ’n verdagte opgespoor waar hy onder ’n doringbos geskuil het en dié verdagte is in hegtenis geneem.

Albei buurtwaglede het op die toneel gebly totdat die klaer tevrede was en hulle seker gemaak het dat die SAPD opdaag waarna die verdagtes aan die SAPD oorhandig is. Die buurtwag het in samewerking met die gemeenskap gereageer en AfriForum-lede het die proses gemoniteer om te verseker dat die SAPD verklarings by die klaer en buurtwaglede neem.

“Ons is baie dankbaar dat ons die verdagtes kon vastrek. Hierdie sukses is gebaseer op pro-aktiewe optrede en op goeie samewerking binne die buurtwag, maar ook met al die ander rolspelers wat deelgeneem het aan die operasie,” sê Thys van Heerden, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Brits-tak.

“AfriForum se Brits-buurtwag het weereens gewys dat hulle nie sal stuit om misdaad te bekamp nie en dat hulle vir die gemeenskap ’n veiliger omgewing wil skep. Ek werk nou saam met die buurtwagte en hierdie is ’n klinkklare bewys van die buurtwaglede se toewyding en erns waarmee hulle misdaad hokslaan,” sê Gerhard Faber, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Noordwes.

Raak by een van AfriForum se veiligheidstrukture betrokke: SMS “Veilig” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings