|

KZN-polisiehoof se aanmoediging om sélf te verdedig verwelkom

Die verantwoordelike gebruik van gelisensieerde vuurwapens deur die regmatige eienaar is ’n noodsaaklike komponent van gemeenskapsveiligheid. Hierdie standpunt van AfriForum sluit aan by lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, se onlangse stelling waarin hy vuurwapenlisensiehouers aanmoedig om hulself teen misdadigers te verdedig. AfriForum verwelkom hierdie stelling en benadruk die belangrikheid daarvan om oor die vermoë te beskik om ’n vuurwapen doeltreffend en wettiglik vir selfverdediging te gebruik. Dit is veral belangrik in situasies waar slagoffers in groter gevaar sal verkeer indien hulle oorgee.

Soos Mkhwanazi benadruk het, kan en sal misdadigers wat op vuurwapens van wetsgehoorsame burgers beslag lê dikwels hierdie wapens gebruik om verdere geweld te pleeg, insluitend moord. Daarom is dit nie net ’n reg nie, maar ’n plig vir vuurwapeneienaars om te verseker dat hul wapens nie in die verkeerde hande beland nie.

“AfriForum stem saam met Mkhwanazi se stelling, maar dit is ook belangrik om te onthou dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) een van die grootste verskaffers van vuurwapens aan misdadigers was, veral aan bendes in die Wes-Kaap,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder van Gemeenskapsveiligheid.

Dit is egter ’n groot verantwoordelikheid om ’n vuurwapen te besit. Dit is nie genoeg om bloot so ’n wapen te besit nie – ’n mens moet vaardig wees in die gebruik daarvan, veral onder druk. Om dié rede beklemtoon AfriForum die belangrikheid van gereelde, realistiese opleiding in spanningsvolle scenario’s. Sulke opleiding verhoog nie net vuurwapeneienaars se vermoë om hulself te beskerm nie, maar verseker ook dat hulle dit binne die perke van die wet kan doen.

“Ons gemeenskappe staar steeds toenemende bedreigings in die gesig en die vermoë om jouself en ander doeltreffend te verdedig is uiters belangrik. Ons ondersteun Mkhwanazi se boodskap en moedig alle vuurwapeneienaars aan om deurlopende opleiding te ondergaan. Deur dit te doen, beskerm hulle nie net hul eie lewens nie, maar dra hulle by tot die breër veiligheid van hul gemeenskappe.”

AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid bied ’n reeks opleidingsprogramme aan hul buurtwaglede, wat ontwerp is om vuurwapeneienaars met die vaardighede toe te rus wat hulle benodig om doeltreffend in kritieke situasies te reageer.

Soortgelyke plasings