|

AfriForum-teenboelieveldtogspan besoek kleuterskole saam met Solidariteit Helpende Hand

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 8 Junie 2022 by die Laerskool Danie Malan, Tshwane North Outreach, Toy Story Kleuterskool en Blommeland Kleuterskool in Pretoria besoek afgelê in samewerking met Solidariteit Helpende Hand se #Handjievatdag en #Kosblikkieprojek. Dié teenboelieveldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap – nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik. Kinders so jonk as drie jaar oud kan skuldig wees aan boeliegedrag. Dit is veral belangrik om al by kleuterskole bewusmaking van afknouery te skep in ’n poging om ’n positiewe verskil in laerskole en hoërskole te maak,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Kinderlaggies, drukkies en liedjies — dít is wat ons personeel in Pretoria op #Handjievatdag ervaar en beleef het. Met kinderbeskermingsweek nog vars in ons gedagtes en Jeugdag om die draai, het ons vrywilliger van ons gedrewe takke in Akasia, Pretoria-Noord en Moot-Wes #Handjievatdag by van Helpende Hand se #Kosblikkieskole die kleuters bederf met kosblikkies vol lekkernye. Die kinders is ook geleer van boelies — hoe om nie ’n boelie te wees nie en hoe om jouself teen boelies te beskerm. Dankie AfriForum en Leandie Bräsler vir julle deelname,” sê Mariana Kriel, Solidariteit Helpende Hand se streekorganiseerder vir Gauteng-Noord.

Het jy geweet dat meer as 8 000 kleuters deur Helpende Hand se kosblikkieprojek daagliks kos ontvang? Klik hier om die kosblikkieprojek te ondersteun deur vandag nog aan te sluit.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings