|

Bothaville se AfriForum-tak eis optrede van Nala-munisipaliteit oor haglike toestand van onwettige vullisterrein

AfriForum se Bothaville-tak het gister (12 Desember) ’n aanmaning aan die Nala Plaaslike Munisipaliteit gestuur rakende die haglike toestand van ’n onwettige vullisterrein buite dié Vrystaatse dorp. In die aanmaning eis AfriForum dat die munisipaliteit ’n daadwerklike plan vir die hantering van dié onwettige stortingsterrein moet opstel. Die munisipaliteit het nou tot einde Januarie 2024 kans om hul planne voor te lê.

Die munisipaliteit se onbereidwilligheid om die nodige afvalbestuur by hierdie vullisterrein toe te pas, beteken dat hulle hulself skuldig maak aan verskeie misdrywe ingevolge die toepaslike omgewingsbestuur- en munisipale wetgewing. Indien dié munisipaliteit dus nie teen einde Januarie ’n daadwerklike plan rakende die hantering van hierdie vullisterrein voorlê nie, sal AfriForum genoodsaak word om ’n kriminele klag by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) teen die munisipaliteit in te dien.

Hoewel die munisipaliteit al verskeie kere versoek is om toe te sien dat onwettige storting hier beëindig word, en die rommel wel van tyd tot tyd opgeruim is, duur die deurlopende storting van vullis en rommel hier voort.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, is daar geen volhoubare plan of kundigheid om dié vullisterrein te bestuur nie. “Dit is onrusbarend dat daar steeds op ’n onwettige terrein vullis gestort word,” benadruk sy.

Tydens ’n vorige vullisterreinoudit wat AfriForum onderneem het, het die munisipaliteit aangedui dat hulle hulp van AfriForum sal aanvaar om te help toesien dat hierdie terrein op die regte wyse bestuur word. Daar het egter dadels van gekom, want die munisipaliteit het nooit weer op AfriForum se navrae gereageer nie.

Die hele terrein moet gerehabiliteer word en ’n nuwe, wettige terrein sal ontwikkel moet word. Soos dit nou bedryf word, hou dit geweldige omgewings- en gesondheidsrisiko’s vir die omgewing en die gemeenskap in.

“Ons doen ’n beroep op inwoners om integriteit aan die dag te lê en nie van die dorp en oop velde ook ’n stortingsterrein te maak nie. Help ons om liewer druk toe te pas om ’n oplossing te kry vir die probleem,” sê Willie Prinsloo, AfriForum-takvoorsitter in Bothaville.

“Die toestand van hierdie vullisterrein bevestig net weer die onbevoegdheid waarmee ons in ons munisipaliteite te kampe het. As dit daarop neerkom dat ons ’n klag by die polisie moet gaan lê, sal ons dit beslis doen, want al die inwoners se gesondheid is op die spel,” sê Pretorius.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by AfriForum betrokke te raak. Kontak Prinsloo by 083 306 5732 om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings