|

Landdros word vervolg ná privaatvervolgingseenheid se toetrede

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het nóg ’n oorwinning behaal nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ’n ommekeer gemaak het en besluit het om wel vervolging in te stel teen Gerald Hattingh, ’n landdros in die Belville-area, op ’n klag van nalatige bestuur.

Dit volg nadat Hattingh reeds in 2011 vir Verna Cloete raakgery het. Die NVG het om ’n onverklaarbare rede lynreg teen die beskikbare getuienis besluit om die landdros nie te vervolg nie. Nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid egter in 2019 namens Cloete betrokke geraak het, het die NVG ’n ommekeer gemaak en besluit om wel vervolging in te stel. Cloete getuig op 21 Oktober in die Bellville-landdroshof teen Hattingh.

Uit skrywes van die NVG het die privaatvervolgingseenheid vasgestel dat aangesien die verdagte ’n landdros is, die saak na die Direkteur van Openbare Vervolgings (DOV) se kantoor verwys is, wat die aanvanklike besluit geneem het om nie te vervolg nie.

Hierdie saak is ook deur die gebruiklike probleme van onvoldoende terugvoer aan klaers en ’n verlore saakdossier belemmer. Volgens die privaatvervolgingseenheid is dit ’n groeiende tendens dat die klaers nie terugvoer kry van die polisie of aanklaers nie en in hierdie geval was daar ook geen terugvoer nie. “Dit bly verbysterend dat daar nog steeds, soos in hier geval, dossiere verlore gaan ten spyte van tegnologiese hulpmiddele om dit teen te werk. Die ironie is dat die privaatvervolgingseenheid ’n kopie van die saakdossier, wat ons van die klaagster gekry het, aan die NVG beskikbaar gestel het,” sê adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

AfriForum verwelkom die uiteindelike vervolging van Hattingh.

“Dit is egter jammer dat die saak byna ’n dekade lank moes sloer voordat die NVG sy grondwetlike plig uitgevoer het. Gevalle soos hierdie bevestig waarom ’n instelling soos die privaatvervolgingseenheid noodsaaklik is om onder meer toe te sien dat geregtigheid geskied deur die nodige druk op die NVG te plaas om sake wat meriete het, te vervolg.”

Soortgelyke plasings