|

Vryburg-buurtwag vind gesteelde goedere terug

AfriForum se Stella-sektor wat onder die Vryburg-buurtwag val het op 16 Februarie verskeie gesteelde goedere terug gevind.

’n Boer in die Stella-omgewing het omstreek 18:30 die buurtwag ingelig dat ’n sonpomp en sonpanele op ’n onbekende voertuig gelaai is. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en boere in die gemeenskap is ook hiervan verwittig waarna ’n gesamentlike soektog na die verdagte voertuig van stapel gestuur is.

Dié voertuig met die drie verdagtes het teen ’n boer se bakkie gebots en twee verdagtes het die veld ingevlug.  Die bestuurder is op die toneel deur die SAPD in hegtenis geneem. 

Die voertuig wat die verdagtes gebruik het, was ongelisensieer en het geen VIN-nommer gehad nie. Die sonpomp met die sonpanele is spoedig teruggevind en aan die boer terugbesorg. Die waarde van die gesteelde goedere beloop ongeveer R30 000. 

“AfriForum sal aanhou om misdaad in geteikende areas te bekamp en die SAPD te ondersteun. AfriForum se Vryburg-buurtwag en Stella-sektor wil graag die gemeenskap vir hul hulp en ondersteuning om die verdagtes vinnig vas te trek bedank,” sê Jp Nel, distrikskoördineerder vir Stellaland.

“Dit is van kardinale belang dat almal saamwerk in die stryd teen misdaad om sodoende ’n veiliger omgewing vir elkeen te verseker,” sê Joseph Renuad, veiligheidshoof vir die Sentraalstreek.

AfriForum se Stellaland-takke beplan verskeie projekte vir die jaar en wil graag die gemeenskap aanmoedig om betrokke te raak. 

Raak vandag nog by AfriForum se takke betrokke, en help om jóú omgewing te beveilig: SMS “Jou dorp se naam” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings