|

Leerders presteer in verrenoordstreeksuitdunrondte van Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie

Die verrenoordstreeksuitdunrondte van AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie het Vrydag, 21 Julie, gesorg vir spannende junior en senior eindstryde. Dit was die tweede van vyf streeksuitdunrondtes wat in vanjaar se kompetisie plaasvind. Merensky Landbou Akademie was andermaal die gasheerskool van hierdie kompetisie wat deur AfriForum geborg word.

Vanjaar het vier skole – Hoërskool Ben Vorster, Hoërskool Pietersburg, Hoërskool Louis Trichardt en Merensky Landbou Akademie aan die kompetisie deelgeneem. Twaalf junior en vyftien senior spanne het om die pryse as streekswenners meegeding.

In die kategorie vir junior hoërskoolleerders het twee spanne van Merensky Landbou Akademie in die eindrondte teen mekaar te staan gekom. Jean de Wet, Danelle du Toit en Luzaan Erasmus van Merensky 1 het as wenners uit die stryd getree met Izelri Theron, Stefan Pretorius en Cesca Nel van Merensky 2 in die tweede plek.

In die senior kategorie het twee spanne van Hoërskool Pietersburg mekaar die stryd aangesê. Die wenners was Lèsia Els, Helgard Muller en Mieke van der Slik van Pietersburg 5, met Nicola Enslin, Gregory Carlisle en Rachelle Laas van Pietersburg 3 as naaswenners.

AfriForum, as borg van die kompetisie en aanbieder van die nasionale finaal, is deur Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, en Nicolene Müller, projekkoördineerder van die kompetisie, verteenwoordig. Hulle het AfriForum se dank teenoor al die deelnemers, asook Merensky Landbou Akademie oorgedra vir die insette wat verseker dat die kompetisie jaarliks in Limpopo nuwe hoogtes bereik.

“Ons sien uit daarna om die wenspanne op 7 Oktober by die finale rondte te verwelkom. Dit gaan duidelik ’n taai eindstryd wees,” sê Bailey.

“Debat is ’n noodsaaklike vaardigheid in enige leerder se lewe en ons is bly om te sien hoe al hoe meer skole en leerlinge aan Dink of Sink deelneem om hulle vaardighede te verbreed,” voeg Müller by.

Soortgelyke plasings