|

AfriForum-takke bied hulp aan Tshwane-metro

AfriForum sal sy takke in die Tshwane-metro aktiveer om met dienslewering te help nadat lede van die vakbond Samwu en ander amptenary aan ’n onwettige staking oor lone deelgeneem het. Hierdie staking het ’n wesenlike impak op dienslewering in die metro gehad.  Munisipale werkers van Samwu eis ’n loonverhoging van tussen 3,5% en 5,4%.

Cilliers Brink, burgemeester van die Tshwane-metro, het bekend gemaak dat hulle 41 amptenary aangemaan het met voorneme om te ontslaan. Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid, glo dat daar ernstige gevolge moet wees vir hierdie onwettige stakers wat tans dienslewering in die metro wil verswak. “Ons wil sien dat die burgemeester sterk staan om teen hierdie amptenary op te tree maar natuurlik moet ons as AfriForum ook kyk wat óns kan doen om die stadsraad in hierdie krisis te help,” sê Ungerer.

Dit blyk dat die grootste krisis vir inwoners van die Tshwane-metro die vullis is wat tans nie verwyder word nie. Hierdie kan ’n groot gesondheidsrisiko inhou en daarom het AfriForum ’n platform vir inwoners geskep om areas te identifiseer waar vullis nie verwyder word nie. “Ons sal hierdie inligting kan gebruik om met die metro te skakel en daar waar hulle nie die vermoë het om vullis te verwyder nie, sal ons kyk hoe ons die situasie kan beredder,” sê Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

“Die metro probeer tans op elke front om al hul finansiële verpligtinge ná te kom. Die stadsraad het hul finansiële posisie tydens ’n mediakonferensie bekend gemaak en pertinent genoem dat hulle sukkel om by hierdie verpligtinge te hou. Dit is dus onredelik van Samwu of ander stakende werkers om vir ’n verhoging te vra terwyl hulle alreeds in 2019 ’n addisionele 18% verhoging gekry het,” sluit Mostert af.

  • Is jou vullis nie verwyder nie as gevolg van die staking in die Tshwane-metro? Laat weet ons hiér.

Soortgelyke plasings