|

Lid van Kaapstad-Noord-buurtwag arresteer vermeende inbreker

’n Lid van AfriForum se Kaapstad-Noord-buurtwag het op Woensdag 24 November ’n vermeende inbreker gearresteer.

Johan en Yolanda Fritz was om ongeveer 07:15 besig om hul huis vir werk te verlaat, toe ’n  verdagte persoon by hulle verby hardloop. ’n Vrou onder in die straat het geskreeu dat hulle die man moet vang omdat hy by haar ingebreek het.

Johan Fritz wat op daardie stadium besig was om sy voertuig uit te trek om werk toe te ry, het die  persoon agternagesit en gearresteer. Die vrou het die verdagte positief geïdentifiseer en gesê dat die verdagte die kamervenster van hulle kind oopgebreek en ingeklim het.

Yolanda Fritz het die plaaslike SAPD gekontak en die persoon aan hulle oorhandig. Die vrou het ’n klag gelê, en die polisie ondersoek die inbraak.

“Hierdie inbraak is die tweede geval binne slegs ’n week in dié area waar die Fritz-familie deur  wakker optrede inbrekers gearresteer het. Daarom moedig ons die gemeenskap aan om by hul plaaslike veiligheidstrukture betrokke te raak,” sê Johan Crous, distrikskoördineerder vir die Boland.

Soortgelyke plasings