| |

Saak van AfriForum en ander teen Johannesburgse Metro oor onderwysinstellings se eiendomsbelasting later voortgesit

Die saak van AfriForum en ander teen die Johannesburgse Metropolitaanse Munisipaliteit oor die buitensporige verhoging van onderwysinstellings se eiendomsbelasting is die afgelope twee dae virtueel in die Hooggeregshof in Johannesburg aangehoor, maar dit was nie voldoende tyd om dit af te handel nie. Die partye sal die hof nader vir datums waarop dit so gou as moontlik voortgesit kan word.

Hierdie regsaksie volg nadat die metroraad weggedoen het met ’n eiendomskategorie wat vir onderwysinstellings gegeld het. Die gevolg is dat openbare instellings voortaan in die kategorie vir openbare dienseiendom aangeslaan sal word en privaat skole as openbare ondernemings. Die belastingkoerse in dié kategorieë is drasties hoër, ongeag of privaat instellings daarvoor kwalifiseer om as organisasies sonder winsoogmerk erken te word en dus vir verligting in aanmerking kom.

“AfriForum neem sterk standpunt in teen hierdie herkategorisering en glo hierdie verhogings skep ook ’n gevaarlike presedent. Dit is vir ons belangrik om deur regsaksie soos hierdie die belange van alle belastingbetalers te beskerm,” sê Deidré Steffens, AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake.

Nie alleen is die dramatiese verhoging kommerwekkend nie, maar ook die prosedurele foute wat die Metroraad gemaak het byvoorbeeld dat openbare raadpleging nie oor die aanpassings gevoer is nie.

“Die voorlopige skikking van Julie 2022 dat onderwysinstellings steeds net vir die vorige finansiële jaar se tariewe verantwoordelik sal wees, en nie gedwing sal word om die nuwe tariewe te betaal nie, word verwelkom, maar bied geen langtermyn oplossing nie,” het Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake bygevoeg.

“Daar is ’n ernstige tekort aan onderwysinstellings in Gauteng en hierdie nuwe tariewe skep groot risiko’s vir die volhoubare voortbestaan van vele instellings. AfriForum is bekommerd dat van hulle hulle deure sal moet sluit of sal moet besnoei op die gehalte van hulle onderrig as hierdie hoër tariewe in die huidige of toekomstige finansiële jare sou geld. Regsaksie was dus noodsaaklik om te verseker dat die spesiale aard van skole erken word in die kategorisering en tariefbepaling van hulle eiendomsbelasting.”

Soortgelyke plasings