Limpopo-buurtwagte skep hoop teen misdaad in Suid-Afrika


AfriForum het op 10 en 11 Mei sy Projek Nehemia – ’n strategie teen geweldsmisdaad, wat verlede jaar in Limpopo van stapel gestuur is – opgeskerp deur opleiding vir lede aan te bied. Altesaam agt AfriForum-buurtwagte van Limpopo het die opleiding, wat net buite Vaalwater plaasgevind het, bygewoon.

Die buurtwagte en die bevelsgroep van Projek Nehemia het tydens die opleiding ’n reeks veiligheidsmodules bygewoon met die doel om misdaad in Limpopo te bekamp en gemeenskapslede by te staan en weerbaar te maak. Die modules het bevel-en-beheer, gebiedsbeskerming, regsaspekte, huis-en-haardbeskerming, traumaberading en die bedryf van inligting ingesluit.

“In ons huidige omstandighede is dit belangrik dat gemeenskappe self verantwoordelikheid neem vir hul veiligheid. Opleiding soos hierdie bied ook aan buurtwaglede die geleentheid om insig te kry rakende uitdagings in ander gemeenskappe en so kan ons almal by mekaar leer,” sê Aldo Venter, voorsitter van AfriForum se Ellisras-tak.

Venter verduidelik verder dat hul strategie die inherente operasionele vermoëns tussen verskillende gemeenskappe op ’n doeltreffende wyse koördineer om sodoende ook samewerking tussen verskillende strukture te verseker.

“Ons moedig gemeenskappe aan om by veiligheidsinstellings betrokke te raak en hul eie veiligheid te prioritiseer. Opleiding is uiters belangrik vir ons gemeenskappe sodat mense weet hoe om hulself en hul naastes te beskerm binne die raamwerk van die wet,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid vir die noordstreek.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS “Buurtwag” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings