|

Hidrobreking: ’n Draak wat Suid-Afrika nie in staat sal wees om te tem nie

Die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewing het voorgestelde regulasies vir aanlandige olie- en gas-eksplorasie en -produksie vrygestel, insluitend die gebruik van hidrobreking (“fracking”).

“AfriForum is verbaas dat die minister van Bosbou, Visserye en Omgewing, Barbara Creecy, hierdie tipe regulasies bekendgemaak het as sy weet dat daar reeds in verskeie lande ’n verbod op hidrobreking is. Dit is totaal teenstrydig met die rol van haar departement wat juis veronderstel is om die omgewing in Suid-Afrika te beskerm,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake.

“Die skaal en omvang van boor- en hidrobrekingsoperasies het bewys dat dit buite die greep van gevestigde olie- en gasproduserende lande en state is, soos die Verenigde State van Amerika, waar lugbesoedeling en boorvoorvalle, insluitend die besoedeling van waterbronne, voortdurend aangeteken word, wat ’n openbare gesondheidsrisiko inhou,” sê Jonathan Deal,  uitvoerende hoof van Treasure Karoo Action Group (TKAG) in reaksie op die voorgestelde regulasies.

De Klerk, sê AfriForum en sy jarelange omgewingsvennoot, TKAG, sal voortgaan met hul teenkanting teen skaliegasontginning in Suid-Afrika. “AfriForum het sedert die publikasie van die nuwe regulasies ons regspan opdrag gegee om te begin voorberei vir die openbare deelnameproses rakende die regulasies,” sê De Klerk.

“Dit ondanks die feit dat toesighoudende liggame, soos die Environmental Protection Agency (EPA) in die Verenigde State, toegerus is met 15 000 opgeleide en georganiseerde personeel en ’n jaarlikse begroting van $10 miljard, in vergelyking met Suid-Afrika se omgewingsdepartement en inspektoraat. Dit is welbekend dat die regulering van myne in Suid-Afrika ’n absolute mislukking is en dat die plaaslike gemeenskap altyd die koste van besoedeling dra, terwyl die paar individue wat die bedryf voorstaan, met groot rykdom wegstap,” sê Deal voorts.

“Die regering se belangstelling in skaliegas word gemotiveer deur oppervlakkige aannames rondom beloftes van werksgeleenthede, ’n sogenaamde oorvloed van energie en finansiële gewin. Hierdie belaglik opgeblaasde syfers het die afgelope dekade soos domino’s geval, aangesien die eise deur ongeëwenaarde plaaslike navorsing, soos die Strategiese Omgewingsassessering en die Akademie vir Wetenskap van Suid-Afrika se verslag oor Suid-Afrika se tegniese gereedheid vir die ondersteuning van ’n skaliegasbedryf, weerlê is. Nietemin blyk dit dat die regering vasbeslote is om hiermee voort te gaan ten spyte van wetenskaplike data wat die teendeel bewys,” voeg Deal by.

Deal sê dat TKAG en AfriForum in die proses is om ’n gesamentlike robuuste reaksie voor te berei en het ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om hul kommentaar oor die voorgestelde regulasies in te dien. “Ná tien jaar sal hierdie ’n naelbytstryd wees en dit berus op plaaslike gemeenskappe om saam te staan teen hierdie groot risiko nes hulle het met die e-Tol-sage. Hierdie regering het bewys dat hy nie in staat is om selfs daaglikse dienste te bestuur nie, maar nou wil hulle ’n ingewikkelde en gevaarlike tegnologie wat deur winsmakers bestuur word aanpak.”

“Die langtermyn impak van duisende verlate putpunte met potensiële toekomstige pypomhulselmislukkings en grondwaterbesoedeling, oor so ’n uitgestrekte geografiese gebied, is ’n tikkende tydbom wat die suurmyndreineringskwessie in Suid-Afrika sal verdwerg. Boonop sal die gas nie goedkoper wees as om van bronne soos Angola en Mosambiek te koop nie – dit sal meer kos, asook risiko’s inhou vir water en landbou en die plaaslike gemeenskap sal met die gemors gelaat word terwyl die ministers, wat dit gefasiliteer het, aanspreeklikheid sal vryspring,” sluit Deal af.

Soortgelyke plasings