|

Loodgieter klim in bokskryt om geld vir Wilmien Potgieter-fonds te in

AfriForum se Wilmien Potgieter-fonds het ’n welkome hupstoot gekry nadat ’n loodgieter van Johannesburg op 20 Julie aan die Champions 4 Charity-uitdaging deelgeneem en sowat R10 000 vir die fonds ingesamel het.

Robert Schoeman het die tjek van R9555.00 vandag aan Marina Wiese, kommunikasiebestuurder van AfriForum, by die organisasie se hoofkantoor in Centurion oorhandig.

Die Champions 4 Charity-geleentheid is deur die loodgieterindustrie gereël onder die vaandel van die Plumbing Industry Registration Board (PIRB) en die Institute of Plumbing South Africa (IOPSA).

Altesame twaalf “boksers” uit die loodgieterbedryf het hul kanse in die kryt gewaag om geld vir elkeen se verkose liefdadigheidsprojek in te samel.

Schoeman sê hy wou graag iets vir die slagoffers van plaasaanvalle en –moorde doen. Hy en sy vrou, Wendy, ken persoonlik mense wat al slagoffers van sulke gewelddadige aanvalle was.

“Ons het nie geweet wie om te nader nie, toe bel ons AfriForum wat ons van die Wilmien Potgieter-fonds vertel het. Ons is baie bly dat ons op ons manier ’n klein bydrae kan maak. Plaasaanvalle en –moorde is skrikwekkend en ruk almal van ons. Hoe meer ons daaroor praat en mense bewus maak, hoe groter kan ons bydra wees om slagoffers te help en te ondersteun,” meen Robert.

Schoeman het kliënte en vriende genader om hom te borg en die Wilmien Potgieter-fonds te ondersteun.

AfriForum het vroeër die Wilmien Potgieter-fonds begin as ’n ondersteuningsfonds vir kinderslagoffers van plaasmoorde. Familielede van die Potgieters het toestemming gegee dat die fonds gestig word.

Kinderslagoffers van plaasmoorde ervaar dikwels ondenkbare vlakke van trauma en lyding. Omdat hulle dikwels klein is en nog nie oor die vermoë beskik om hul gevoelens te verwoord nie, treur hulle in stilte en praat hulle nie oor hul vrese nie.

Sielkundiges en beraders moedig mense wat ná aan hierdie kinders is aan om so gou moontlik vir hulle hulp te kry om hulle te help om die trauma te verwerk.

Elke kind hanteer die situasie of gebeure anders. Maar in die meeste gevalle het hulle berading dringend nodig omdat hulle skielik aan slaaploosheid, angstigheid en selfs depressie begin ly. Van hierdie kinders moet noodgedwonge op medikasie gaan om hulle te help om te oorleef.

Benewens hul geestelike en emosionele gebrokenheid waaraan aandag gegee moet word, is van hulle ook skielik sonder finansiële sekuriteit en standvastigheid as byvoorbeeld die pa, wat gewoonlik die broodwinner is, vermoor word. Van hulle sukkel ook om op skoolwerk te konsentreer en akademies te presteer. In baie gevalle kan noodsaaklike uitgawes soos skoolgeld, leermateriaal en sport- en ander aktiwiteite ook nie meer betaal word nie as kinders hul ouers verloor.

Wilmien en haar ouers, Wilna en Attie, se verhaal het die land in 2010 tot stilstand geruk. Wilmientjie (2) en haar ouers is in Desember wreed op hul plaas naby Lindley in die Vrystaat vermoor. Wilmientjie is met ’n skerp voorwerp op haar kop geslaan voordat sy geskiet is. Attie het 151 steek- en ander wonde aan sy liggaam gehad. Wilma, is soos hy, ook brutaal gemartel voordat sy in die nek geskiet is.

As jy tot dié fonds wil bydrae, stuur “FONDS” na 38312 (R10 per SMS).

’n Skenking kan ook gemaak word deur die volgende bankbesonderhede te gebruik:

Rekeningnaam: AfriForum NPC

Rekeningnommer: 62349898398

Taknaam: FNB Centurion

Takkode: 26155

Soortgelyke plasings