|

LYS VAN “OPSY-STANERS” WEENS BEWEERDE BEDROG, KORRUPSIE EN GELDWASSERY KAN LANK WEES

Deur Alet Rademeyer

Provinsiale leiers van die ANC het tot môremiddag vyfuur om lyste met name van ANC-lede wat van beweerde korrupsie of ander ernstige misdade aangekla word óf wat by beweerde korrupsie betrek of geïmpliseer word, bekend te maak.

Dié inligting moet ironies genoeg aan die kantoor van Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, wat sélf van bedrog en korrupsie aangekla is, gestuur word. Magashule is uit op borgtog van R200 000. Hy moet self oor twee weke sy pos verlaat weens beweerde korrupsie, bedrog en geldwassery in die asbes-skandaal in die Vrystaat.

Die versoek kom in die lig van die naderende sperdatum wat die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC verlede maand gestel het dat diegene wat van korrupsie aangekla word binne 30 dae opsy moet staan of skorsing in die gesig staar.

Die NUK het op ’n vergadering van 26 – 28 Maart die resolusies herbevestig wat op die 54ste nasionale konferensie geneem is om misdaad en korrupsie te beveg.

Te oordeel aan ’n ontleding wat Forum Nuus die afgelope maand gedoen het oor amptenare wat op talle aanklagte tereg staan of wat nog ondersoek word, gaan die lyste baie lank wees.

Korrupsie is ’n diepgewortelde kanker in Suid-Afrika en totaal buite beheer. Die land se wetstoepassers is onder enorme druk om grootskaalse korrupsie te beveg. Adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, het juis vroeër gewaarsku dat indien die nasionale vervolgingsgesag (NVG) nie meer hulpbronne kry nie, die nodige vordering nie gemaak kan word nie. Dit geld ook vir die enorme taak wat die Valke en die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het.

Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, het vroeër in die parlement gesê die Valke werk met ’n sterkte van slegs 47% van sy personeel. Die Valke het meer as 21 000 sake wat deur minder as 2 000 ondersoekers ondersoek word. Van die grootste korrupsie- en bedrogsake hou ook verband met staatskaping waarby die Gutpas betrek word, die VBS Mutual Bank-skandaal, die asbes-skandaal en vele ander.

Hoewel die omvang van korrupsie nie naastenby vasgestel kan word nie, kry mens tog wel ’n idee as gekyk word na statistieke wat van tyd tot tyd vrygestel word. Dit is nou benewens die geraamde duisende miljarde rand wat die land weens staatskaping verloor het.

Die Staatsdienskommissie het in Maart in sy kwartaallikse bulletin gesê sedert 2004 is 23 198 gevalle van beweerde korrupsie deur fluitjieblasers by die nasionale teenkorrupsielyn aangemeld.

Daarbenewens het die korrupsiewaghond Corruption Watch onlangs bekendgemaak dat die organisasie in 2020 altesame 4 780 klagtes oor korrupsie ontvang het. Die meeste klagtes hou verband met wanadministrasie, korrupsie met verkrygingsprosedures en bedrog. Sowat 11% van die beweerde korrupsie het in die polisie plaasgevind.

Politieke ontleders is dit eens dat indien korrupsie nie doeltreffend beveg word én voorbeelde van oortreders gemaak word nie, die land eenvoudig sal voortsnel om ’n mislukte staat te word. En om dit te voorkom, is dit krities noodsaaklik dat die staatsdiens reggeruk moet word.

Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie, is dus reg as hy sê staatsamptenare behoort nie aangestel te word omdat hulle vir ’n sekere party (lees ANC) stem nie en dat ’n “professionele staatsdiens” geskep moet word.

Forum Nuus het die volgende lys saamgestel van hoë profiel-amptenare wat die afgelope maand in die nuus was weens beweerde korrupsie en waarvan baie ook teen die einde van die maand hopelik hul poste sal moet ontruim.

  • Ace Magashule: Hy staan en sy medebeskuldigdes (Olly Mlameli, Edwin Sodi, Thabane Zulu, Nthimotse Mokhesi, Mahlomola Matlakala, Sello Radebe en Abel Manyike) staan tereg op minstens 74 aanklagte waarby meer as R225 miljoen betrokke is.
  • Zandile Gumede, voormalige burgemeester van die eThekwini-metro en lid van die KwaZulu-Natalse wetgewer, en 16 amptenare staan tereg op 2 786 aanklagte van bedrog, korrupsie, geldwassery wat verband hou met tenders van R400 miljoen.
  • Andrina Matsimela, voormalige burgemeester van die Mogalakwena-munisipaliteit in Limpopo word ook by korrupsie geïmpliseer. Pres. Cyril Ramaphosa het die SOE opdrag gegee om bewerings van korrupsie en wanbestuur in die munisipaliteit te ondersoek. Volgens ’n OG-verslag het die munisipaliteit tussen 2017 en 2019 sowat R1,7 miljard se onregmatige uitgawes aangegaan.
  • Bongani Bongo, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake, en ander staan tereg op aanklagte van korrupsie, bedrog, diefstal en geldwassery weens die aankoop van grond in Mpumalanga waarby R52 miljoen betrokke is.
  • Danny Msiza, ANC-tesourier in Limpopo, en ander tereg op aanklagte van diefstal, bedrog, geldwassery en korrupsie wat spruit uit die VBS Mutual Bank-skandaal.
  • Mike Mabuyakhulu, adjunk-voorsitter in KwaZulu-Natal, staan tereg op aanklagte wat met korrupsie verband hou vir ’n fees waarvoor R28 miljoen glo betaal is, maar wat nooit plaasgevind het nie.
  • Kgotso Khumalo, burgemeester van die J.B. Marks-munisipaliteit in Potchefstroom, staan saam met Cyril Hendry, voormalige hooggeplaaste, en Mohau Shuping, tereg op aanklagte van bedrog en diefstal waarby sowat R5 miljoen betrokke is.
  • Lebo Ralekgetho, munisipale bestuurder, en Thumisang Moeketsane, finansiële hoof van die J.B. Marks-munisipaliteit, is geskors oor beweerde COVID-19-verwante bedrog van R11,4 miljoen.
  • Sindiswa Gomba, voormalige LUR vir gesondheid in die Oos-Kaap en lid van die provinsiale wetgewer, staan tereg op aanklagte van bedrog en korrupsie wat met die gedenkdiens van oudpres. Nelson Mandela verband hou.
  • Matric Luphondo, waarnemende direkteur van openbare vervolging in die NVG in Mpumalanga, lt.kol. Ayanda Plaatjie van die Valke en Kebone Masange, departementshoof van menslike nedersettings, word van korrupsie aangekla.
  • Thabo Lekalakala, voormalige hoof van die departement van gesondheid in Noordwes, staan tereg op aanklagte van bedrog en korrupsie oor ’n beweerde onreëlmatige kontrak van miljoene rande vir mobiele klinieke wat met die Mediosa-maatskappy aangegaan is. Mediosa is glo R30 miljoen betaal voordat enige dienste nog gelewer is.
  • Nege mense, Impoletseng Kilelo, Paul Mokoena, Oratile Schoeman, Togara Ndebele, Tjetjepa Motaung, Jacqueline Tshilo, Mandy Ntshoe, Labane Nshoedi en Eveline Makoloi, staan tereg op aanklagte van bedrog van R1,6 miljoen teen die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley.
  • Vyf amptenare van die Matjhabeng-munisipaliteit het op klagtes van bedrog en korrupsie in Welkom verskyn. Dit hou verband met R1 miljoen en die oortreding van die Wet op Finansiële bestuur. Hulle is Tumelo Makofane, Izizwezidibene Springkaan, Gloria Smith, Tiisetso Mahlatsi, Manuel Mahlatsi en Mantoa Mahloko. Hul is op borgtog vrygelaat.

As burgerregte-organisasie is AfriForum daartoe verbind om korrupsie in die samelewing te beveg. Daarom het die organisasie ook ’n teenkorrupsie-eenheid wat nou saam met adv. Gerrie Nel en AfriForum se Privaatvervolgingseenheid werk om ondersoeke te doen en klagtes in te dien om korrupsie hok te slaan.

AfriForum moedig ook die publiek aan om standpunt teen korrupsie in te neem en dit op plaaslike vlak bloot te lê. AfriForum bied ook beskerming aan fluitjieblasers wat met inligting oor korrupsie na vore kom.

As deel van AfriForum se nasionale veldtog teen die wanbesteding van belastingbetalers se geld word strafregtelike klagtes ook aanhangig gemaak teen provinsiale en nasionale departementshoofde ingevolge artikel 86(1) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur 1 van 1999.

Soortgelyke plasings