|

AFRIFORUM VERNEEM DAT TOTAL SY AANSOEK ONTTREK VIR BEOOGDE EKSPLORASIE AAN DIE SUIDKUS

Die burgerregteorganisasie AfriForum het verneem dat Total SA sy aansoek vir eksplorasie in ’n streek van die kusgebied tussen St. Francisbaai en Mosselbaai onttrek het. AfriForum verwelkom dié stap maar sal die situasie fyn dophou om te verseker dat enige toekomstige prosesse deeglik ondersoek word om sodoende die kwesbare mariene omgewing te beskerm.

AfriForum moniteer dié aansoek sedert verlede jaar en het ook kommentaar daarop ingedien. SLR Consulting het namens Total SA aansoek gedoen om 11 gate aan die kusgebied as eksplorasieputte te boor.

Die gebied ter sprake is onontbeerlik vir die mariene biodiversiteit aan die Suid-Afrikaanse kuslyn. Boonop is daar ’n beskermde mariene gebied net suid van die beoogde prospekteergebied.

“AfriForum is nie teen enige bestaande of beoogde mynaktiwiteite gekant nie, maar as beskermer van die omgewing is dit belangrik om aan alle prosesse en prosedures deel te neem om te verseker dat gemeenskappe en die land beskerm word,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake.

Raak vandag nog by AfriForum betrokke en help om die omgewing vir toekomstige generasies te bewaar: SMS jou naam na 45354 (R1).

Soortgelyke plasings