|

Veediewe in Standerton vasgetrek

AfriForum se Standerton-buurtwag het op 23 Januarie 2020 in samewerking met lede van die Bethal Stock Theft Information Centre (STIC) en Kasselman-sekuriteit veediewe vasgetrek ná ’n twee dae lange operasie.

Dít volg nadat lede van die buurtwag inligting ontvang het dat veediewe beplan om op 22 Januarie op ’n plaas buite Morgenzon toe te slaan, beeste te steel en die beeste met ’n voertuig na Standerton te vervoer.

Die veediefstaleenheid van die Bethal-polisie en STIC-lede is betrek om bystand tydens die operasie te bied. Die diewe het egter eers op 23 Januarie toegeslaan en lede van die veediefstaleenheid en STIC het hulle in Morgenzon ingewag. Lede van AfriForum se Standerton-buurtwag, Kasselman-sekuriteit en boere van die Charl Cilliers-omgewing het die pad versper toe die diewe Standerton binnegegaan het.

Die diewe het probeer om te voet te ontsnap, maar al vyf is in hegtenis geneem en twee vasgebinde beeste is agter op die betrokke voertuig gevind.

Die beeste is teen Vrydagoggend uitgeken en die verdagtes word reeds met ander misdrywe verbind. Die buurtwag het verlede jaar een van die verdagtes, wat tans uit is op borgtog, weens veediefstal gearresteer.

“Hierdie sukses is ’n bewys dat goeie beplanning en samewerking van verskeie strukture noodsaaklik is. Saam kan ons ’n verskil maak om die vlaag misdaad in Suid-Afrika te bekamp,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

Sluit vandag nog by AfriForum se Standerton-buurtwag aan: SMS “Standerton” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings