Malema-haatspraaksaak: Deskundige getuie sê Malema se uitlatings kom neer op haatspraak

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) se haatspraaksaak teen Julius Malema, leier van die EFF, het vandag in die Gelykheidshof in die Wes-Kaap begin. Hierdie saak volg ná AfriForum in 2022 klagtes teen Malema by die SAMRK ingedien het weens uitlatings wat hy gemaak het tydens die EFF se provinsiale vergadering in die Wes-Kaap.

Dr. Karien van den Berg, senior dosent van die Departement Engels aan die Noordwes-Universiteit (NWU) en ’n kenner op die gebied van linguistiek en toegepaste linguistiek, het opgetree as deskundige getuie. Sy het onder meer getuig dat Malema se 2022-uitlatings wat ondersoek is, inderwaarheid neerkom op haatspraak. Van den Berg het verder getuig dat haar ondersoek oor Malema se kommentaar daarop dui dat die redelike aanhoorder sy uitlatings as doelbewus en ’n direkte aanhitsing tot geweld sou interpreteer. Malema het onder meer gesê: “Julle moet nooit bang wees om dood te maak nie, ’n rewolusie vereis dat daar op een of ander punt doodgemaak moet word, want doodmaak is deel van die rewolusionêre daad.”

“Hierdie haatspraaksaak teen Malema het goed begin te danke aan ’n deskundige getuie wat nie doekies omdraai oor Malema se doelbewuste aanhitsing tot geweld nie. AfriForum sal hierdie saak moniteer en ons lede asook die publiek op hoogte hou van hoe dié saak ontvou,” sê Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum.

Soortgelyke plasings