|

‘Malema het geen berou oor Kill the Boer’ betoog AfriForum

Julius Malema se getuienis in Februarie vanjaar tydens die haatspraaksaak wat in die Gelykheidshof in Johannesburg aangehoor is, wys dat hy ten gunste van geweld is en wit mense haat.

Gegewe die feit dat hy in ’n magtige posisie as die leier van die derde grootste politieke party (die EFF) in die land is én die feit dat die lied Kill the Boer vroeër deur die Menseregtekommissie en ’n ander hof tot haatspraak verklaar is, is nóg meer rede waarom hy tot verantwoording geroep moet word.

Dít was deel van die slotbetoë wat adv. Mark Oppenheimer, regsverteenwoordiger van AfriForum, vandag in die hof gelewer het.

Oppenheimer het ook betoog dat die video wat tydens die vorige hofsaak buite die hof geneem is van Malema se ondersteuners wat duidelik Kill the Boer gesing het, ook deel van die getuienis in dié saak moet wees.

Dit bewys duidelik dat dit nie strook met die woord Kiss wat Malema vroeër voorgehou het in sekere gevalle wel gesing is nie. Terwyl hy ook daarna getuig het dat hy niks daarmee verkeerd sien dat Kill the Boer gesing word nie en dat hy nie omgee dat sy ondersteuners dit sing nie. “Sy getuienis kom nie ooreen met die weergawe wat voorgehou word dat die lied gemik is op ’n onregverdige stelsel nie.”

Oppenheimer het betoog dat haatpraak nie net onbillike diskriminasie is nie, maar baie meer as net dit wil bereik. “Die sing van Kill the Boer kom op aanhitsing van geweld neer.”

Hy het ook verwys na Malema se uitsprake teenoor wit mense en dat hulle almal skuldig is en steeds moet betaal vir wat hul voorvaders gedoen het.

Malema het ook die fenomeen van plaasmoorde ontken en in reaksie op die hartverskeurende getuienis van slagoffers wat sulke aanvalle oorleef het gesê dit raak hom glad nie. Dít terwyl daar getuienis en statistiek is oor die omvang van plaasmoorde en die brutaliteit en geweld waarmee dit gepaard gaan.

Oppenheimer het gesê daar kan nie verskillende reëls vir verskillende rasse wees nie soos wat dit onder apartheid was. Malema kan nie anders as enigiemand anders behandel word wat hom aan haatspraak skuldig maak nie. “Malema het in sy getuienis volgehou om ’n onberouvolle houding in te neem wat haat versterk.”

Malema het ook vroeër volgehou dat hy nie kan onderneem dat daar nie een of ander tyd ’n slagting van wit mense sal wees nie.

Adv. Mfesane Ka-Siboto vir Malema en die EFF, het in sy slotbetoog geargumenteer dat Ernst Roets se deskundige getuienis verwerp moet word omdat hy ’n werknemer van AfriForum is en veldtogte teen plaasmoorde dryf. Hy het ook aangevoer dat Roets se boek Kill the Boer “niks anders as hoorsê” is nie. Oppenheimer het geargumenteer Roets is ’n geloofwaardige getuie en dat daar meer as duisend verwysings in die boek is om die navorsing te staaf. “Hy het geen persoonlike belang by die saak nie.”

Ka-Siboto het voorts geargumenteer die hof moet verstaan wie en wat Malema en sy politiek is wanneer hy Kiss the Boer sing. Hy voer aan politieke liedere kan nie letterlik opgeneem word nie en daar moet gekyk word na die spesifieke betekenis wat dit het vir diegene wat dit sing.

Ka-Siboto het ook na aanleiding van die getuienis van dr. Duncan Prinsloo, wat in 2008 saam met sy vrou Laetitia in ’n plaasaanval was, voorgehou dat daar geen bewys is dat mense direkte sielkundige trauma of gevolge het weens die sing van Kill the Boer nie.

Prinsloo het vroeër tydens sy getuienis bewoë vertel hoe die gebeure sy en sy gesin se lewe onherroeplik verander het. Hy het ook sy lewensmaat in die aanval verloor.

Ka-Siboto het met verwysing na ’n aansoek deur die applikante dat Malema en die EFF die koste moet dra, aangevoer die hofsaak het te lank geduur en volgens hom was ’n groot gedeelte van die getuienis sonder enige meriete.

Regter Edwin Molahleni het uitspraak voorbehou.

Soortgelyke plasings