|

AfriForum en die Suiderberg Skool verseker ʼn groener toekoms

Leerlinge van die Suiderberg Skool in die weste van Pretoria het vandag ingegryp en 12 Vaderlandswilgbome (Combretum erythrophyllum) langs hul skool se rugbyveld geplant.

Dié skool spog met verskillende sentrums, waaronder ʼn bousentrum, waar leerlinge kan help met kleinskaalse bouwerk, loodgietery en onderhoud van die skool se tuine.

“Die leerlinge het gehelp om ʼn afdak te bou langs die rugbyveld en die idee is om dié bome langs dit te plant sodat daar nog lekker skaduplek is vir toeskouers om ook te kan sit en sportgeleenthede te geniet,” vertel Willem van Dalen, ʼn onderwyser by dié skool.

“Die kinders moet weet dit is hulle skool en hulle terrein. Daarom laat ons hulle inspring om eienaarskap te kan neem. Dit maak die leerlinge ook trots want oor vier of vyf jaar kan hulle terugkom en sê hulle het ʼn bydra gelewer en gehelp om die skool se terrein te verbeter.”

Promise Mogoba, ʼn gr. 10-leerling by die skool, het gesê dat hy trots was om te help tydens die boomplant-aksie. “Dit is belangrik om bome te plant omdat ons hulle nodig het om asem te haal en omdat hulle ons omgewing mooier maak. Ons hoop dat ander leerlinge en ouers eendag lekker onder dié bome kan sit en die skaduwee geniet.”

Die AfriForum-tak in Christiana het ook as deel van boomplantmaand vier vrugtebome by skole in die dorp geplant, terwyl die Heilbron-tak 13 bome aan die Hoërskool Heilbron as deel van dié inisiatief geskenk het. Leerlinge van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP) het verlede week ook in samewerking met AfriForum vier bome by hul skool geplant.

Volgens Chris Boshoff, AfriForum se koördineerder vir omgewingsake, is boomplantmaand deel van ’n poging om die toekoms vir die volgende generasie te verseker. “Mense regoor Suid-Afrika vier boomplantdag op 1 September, maar AfriForum wil egter die hele Septembermaand aan die plant van bome wy.”

Sowat 130 AfriForum-takke beplan om deur die loop van die maand meer as duisend bome landwyd te plant. ’n Inligtingsdokument oor boomplantmaand is beskikbaar by www.afriforum.co.za

 

Soortgelyke plasings