|

Malema-verhoor tot Julie uitgestel

Julius Malema, omstrede leier van die EFF, se verhoor is vandag in Bloemfontein tot 27 Julie uitgestel.

Hy het vlugtig in die landdroshof in die stad verskyn op aanklag van oortreding van die Wet op Oproerige Byeenkomste van 1956. Die aanklag spruit uit ’n voorval in 2014 toe hy EFF-lede tydens ’n verkiesingskonferensie aangemoedig het om grond onwettig te beset.


Die verhoor is uitgestel hangende ’n uitspraak van die hooggeregshof in Pretoria oor die grondwetlikheid van die aanklagte teen hom. Sy regspan betwis die Wet op Oproerige Byeenkomste. Die EFF beskuldig die staat dat hy wette uit die apartheidsera gebruik om kritici stil te maak.

Malema het ook vroeër in Newcastle se landdroshof verskyn op aanklagte van aanhitsing tot geweld. Dié saak is tot 25 Junie uitgestel.

Ondanks die hofsake teen Malema gaan hy onverpoosd voort om mense aan te moedig om grond onwettig te beset. Hy sê gereeld aan sy ondersteuners dat hulle alle reg het om grond te beset omdat wit mense dit gesteel het. Malema het vroeër vanjaar ’n sleutelrol gespeel waar die mosie oor grondonteiening sonder vergoeding in die parlement deur die meerderheid aanvaar is.

Sedertdien woed fel gesprekke en debatte oor die fatale implikasies wat onteiening sonder vergoeding vir eiendomsreg en die ekonomie in Suid-Afrika sal inhou.

Die parlementêre grondwetlike hersieningskommissie ondersoek tans artikel 25 van die Grondwet en ander tersaaklike klousules om te betaal of onteiening sonder vergoeding moontlik sal wees. Die komitee se bevindings moet voor 30 Augustus aan die nasionale vergadering voorgehou word.

Soortgelyke plasings