|

Oorspronklike lekkerlag-komediereeks nou op AfriForumTV beskikbaar

AfriForumTV het vandag ’n splinternuwe agt episode-komediereeks bekendgestel waarin bekendes soos Pietie Beyers, Elma Postma, Bouwer Bosch en Augusta Zietsman te sien is. Blits-Bulletin is ’n ensemble-komediereeks wat handel oor die agter-die-skerms-gebeure van ’n bekende Afrikaanse nuusprogram.

Volgens Laurika de Kock, vervaardiger van Blits-Bulletin, bied hierdie reeks ligte vermaak en kykers kry die geleentheid om vir ’n oomblik weg te kom van die werklikheid af.

Pierre Malan, ’n regisseur by AfriForumTV en konsepontwikkelaar van Blits-Bulletin, sê die idee van die reeks het ontstaan toe hy in 2018 vir Riaan Cruywagen, wat ook in die reeks te sien is, by die Gautreinstasie moes gaan oplaai het. Nadat hy en Cruywagen in die motor gesels het, het die storie oor ’n nuusateljee met lawwe karakters ontwikkel. “Blits-Bulletin is ’n lawwe komediereeks met ’n bietjie aksie in en ek hoop die kykers geniet dit.”

Blits-Bulletin handel oor Sebastian (gespeel deur Beyers) die inhoudsvervaardiger by die nuusprogram Blits-Bulletin. Hy het ’n reuseverbeelding en groot drome om ook ’n ikoniese nuusleser soos sy held, Riaan Cruywagen, te word. Dit is ’n wonderwerk dat hulle elke aand die nuus regstreeks kan uitsaai en in die eerste episode maak ’n windlawaai nuusleser sy verskyning en gooi al Sebastian se drome omvêr.

“Hierdie was een van die beste tekste wat ek al gelees het. Ek het hardop gelag toe ek die teks gelees het en ons moes die verfilming met tye stop omdat die akteurs begin lag het vir die komiese dele. Ek hoop mense gaan net so lekker lag as hulle na die reeks kyk,” sê Beyers.

Postma vertolk die rol van Lorraine Blignaut wat aan haar werk verslaaf is en volgens haar was hierdie rol heeltemal anders as wat sy vantevore al vertolk het. “Ek het nie nodig gehad om ’n verskriklike emosionele karakter te speel en te huil nie. Dit was baie lekker om vir ’n slag my ‘streng skoene’ aan te trek en ’n sterk karakter te vertolk. Ek het dit vreeslik geniet.”

Bosch is die lui kamera-operateur in die reeks en ’n paar ander akteurs soos Grant Towers, Jonathan Pienaar, André Lötter, Luan Lauw en Pierre Breytenbach is in die reeks om die reeds onstuimige werkplek verder omvêr te werp. Neels Clasen, Angelique Gerber en Themba Ntuli is ook in die reeks te sien.

Blits-Bulletin is op verskeie plekke in Pretoria verfilm onder meer in die AfriForumTV-ateljee, Ivory Manor, Moonshot Café en Pretoria Boys High School. Mense wat veral van die Amerikaanse reekse Brooklyn Nine-Nine en Scrubs gehou het, sal hierdie reeks terdeë geniet.

Die eerste drie episodes van Blits-Bulletin is dadelik op AfriForumTV beskikbaar waarna die volgende vyf episodes van dié reeks weekliks bekendgestel word.

Blits-Bulletin is deur Claudia van Zyl geskryf en het ’n ouderdomsbeperking van 13 vir taalgebruik.

Soortgelyke plasings