Malema weer in hof – dié keer vir aanranding

Julius Malema, leier van die EFF, en Mbuyiseni Ndlozi, EFF-LP, sal vandag in die hof verskyn op aanklagte van die beweerde aanranding van die SAPD-kolonel Johannes Venter. AfriForum se regsverteenwoordiger tree ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag in hierdie saak op en sal die hofverrigtinge bywoon. Die staat se twee ooggetuies sal vandag en môre tydens die hofverrigtinge ondervra word.

Malema en Ndlozi het Venter, ’n senior polisieman in uniform, na bewering aangerand tydens ’n voorval in April 2018 wat op kringtelevisie vasgelê is. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aanvanklik huiwerig gelyk om diegene wat betrokke was by die 2018-voorval te vervolg wat AfriForum se privaatvervolgingseenheid genoop het om ’n mandamus-aansoek in te dien wat die NVG verplig het om ’n besluit in die saak te neem. Die NVG het daarna aangekondig dat Malema en Ndlozi wel vervolg gaan word.

Venter het voorheen onder eed getuig dat hy vir die beskuldigdes gesê het dat hul in die begraafplaas in kan loop, maar nie kan inry nie want die voertuig is nie deel van die konvooi wat goedgekeur is nie. Hy het verder getuig dat Malema vir hom gesê het dat hy nie sal inloop nie maar sal inry en geen wit man sal hom stop nie. Venter het ook getuig dat hy besig was om met die begraafplaas se bedryfsentrum te skakel om die nodige magtiging te verkry vir hulle om in te ry, toe Malema en Ndlozi uit die motor gespring en hom herhaaldelik gestamp het. Die beskuldigdes het toe by die begraafplaas ingery sonder dat Venter of sy hoof die nodige magtiging gegee het.

“Ons hoop dat geregtigheid in hierdie saak sal geskied. Die publiek is keelvol vir die EFF se blatante minagting van wet en orde. Malema wys sy ware kleure aangesien hy vanjaar reeds in drie afsonderlike sake op ernstige aanklagte in die hof verskyn het. Gelukkig sal dit die EFF se reeds kwynende ondersteuningsbasis verder laat krimp,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Lede van die publiek kan die hofverrigtinge regstreeks volg op Newzroom Africa se platforms Ongelukkig kan AfriForum nie die verrigtinge regstreeks uitsaai nie weens ruimtelike beperkings in die hof.

Soortgelyke plasings